top of page

Leef uit genade; deel dit ook met ander

  • Stephan Joubert
  • 12 hours ago
  • 2 min read

Teks: Prediker 1:2


Eutropius was die tweede magtigste man onder keiser Arkadius in die Bisantynse Ryk. Na ’n suksesvolle militêre veldtog is hy in die jaar 399 tot konsul bevorder. Sy magsmisbruik het egter veroorsaak dat die keiser se vrou, Eudoksia, hom wou doodmaak. Eutropius het in die bekende Hagia Sofia in Konstantinopel gaan skuil. Soldate wou hom daar arresteer. Maar dit was ’n Saterdag en hulle het besluit om te wag. Daardie Sondag het Chrysostomus, die biskop van Konstantinopel, gepreek. Massas mense het opgedaag. Eutropius het bevrees vasgeklou aan die altaar. Chrysostomus se preek, soos wat dit later in sy Homilieë neergepen is, was ’n kragtoer van wysheid en genade. Vanuit Prediker 1:2 het hy vir die skare verduidelik dat alles tevergeefs is. Reg voor hulle oë val die tweede magtigste man in die wêreld se lewe uitmekaar. “Dink net watter pyn en wroeging gaan hy deur terwyl hy aan die altaar vasklou,” het Chrysostomus gesê.


Toe herinner Chrysostomus die aanwesiges daaraan dat hulle almal eendag voor God se regterstoel moet staan. Dan sal hulle graag genade van Hom wil ontvang, dieselfde tipe genade wat hulle nou aan Eutropius moet bewys. Hy het hulle ook herinner aan die genade van Christus waarop hulle hoop gevestig is. Chrysostomus se preek het geslaag. Diegene wat bloed wou sien, se harte het versag. Eutropius se lewe is vir ’n wyle langer gespaar, te danke aan ’n kragtige genadepreek. Nie wraak nie, maar vergifnis - dit is steeds in 2022 ons enigste roete! Mag ons dit daagliks ruim uitdeel terwyl onsself uit God se genade leef.


Gebed: Dankie Here dat U die lotgevalle van mense verander deur U genade. Leer my om vanuit U genade te leef en om dit te deel.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page