Leef ’n HOOFLETTER-lewe
Teks: 1 Korintiërs 10:31
Dit was Martin Luther King Jr wat op ‘n keer gesê het dat as jy ‘n straatveër is, dan moet jy dit doen met dieselfde oorgawe as waarmee die Italiaanse meester, Michaelangelo, sy beeldhouwerke uitgekap het. Of waarmee ’n Mozart sy geniale musiek gekomponeer het. Paulus het iets soortgelyk in gedagte in 1 Korintiërs 10:31 en in Kolossense 3:17. Hy sê naamlik hier dat alles in ons lewe oor die Here moet gaan. Of ons eet, of drink, of enigiets doen, ons doen dit vir Hom. Anders gestel, die Heer se Naam moet in HOOFLETTERS geskryf staan bo-oor elke woord op ons lippe en bo-oor elke daad wat ons verrig. Soos ‘n flitsende advertensiebord moet ons lewens die Here se mooiheid en grootheid in alles weerkaats.
Ons leef ons lewe in HOOFLETTERS as ons die Here elke dag uitnooi as die Eregas in ons lewe. Wanneer Hy die Eregas is by elke gesprek wat ons voer, sal al ons woorde keurig, stylvol en opbouend wees. Wanneer ons seker maak dat die Here die Getuie is van elke taak wat ons verrig, sal ons ons werk met oorgawe vir Hom doen. Dan sal ons dit ook met trots, deeglikheid en toewyding doen. In dieselfde asem moet die Here ook die Eregas in ons huwelik, ons vriendskappe en in die res van ons lewe wees. Dan sal alles wat ons ook al doen, gedoen word om God se hart bly te maak. Presies so leef ons ’n HOOFLETTER-lewe.
Gebed: Hier staan ek voor U om ’n beter, mooier lewe vir U te leef. Ek wil ’n HOOFLETTER-lewe leef.




Comments