Kleredragvoorskrifte vir elke geleentheid
- Alet Gardner
- Mar 4
- 2 min read
Een van die mees bevredigende ervarings, wat Brink in sy klerewinkeldae gehad het, was om ‘n jongman te adviseer in die keuse van die regte uitrusting vir ‘n werksonderhoud. Die jongman het kiertsregop by die winkel uitgestap, vol selfvertroue, en na die tyd met trots kom vertel: “Ek het die werk gekry!”
Om reg aangetrek te wees vir veral belangrike of spesiale geleenthede, is essensieel. Daarom is Paulus se beeld so treffend wanneer hy vir ons as gelowiges klerekaswenke gee. Die klere van die hemelse Ontwerper is veeldoelig en altyd gepas. Dus, eerder as om oorhaastig te gryp na een van my ou, verslonsde kledingstukke (bv. spanning, onverdraagsaamheid en selfs haatdraendheid) is dit raadsaam om na die nuwe klerekas, wat Paulus beskryf, te gaan en iets meer toepasliks te kies.
“Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.
Verdra mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.
En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.” – Kolossense 3:12-14 AFR53
Begrip of innerlike ontferming:
Voordat ek my vrede (of my humeur) verloor, is dit beter om te probeer verstaan hoekom iemand op ‘n sekere manier optree. Dis dalk nie hoe ek sou optree nie, maar die persoon het dalk ‘n goeie rede daarvoor.
Goedgesindheid:
Dis nogal dikwels in my naby verhoudings nodig dat ek genade moet betoon, goed moet wees vir my man of kinders, my vriend(in) of kollega. Ek sal moet omgee en meer doen as wat van my verwag sou word.
Nederigheid:
Dit is ook in my naby verhoudings waar ek die maklikste struikel en met ‘n wilsbesluit hierdie kledingstuk van nederigheid moet nadertrek. Ek nie sal toelaat dat trots en selfsug veroorsaak dat ek nie my eie foute wil raaksien en erken nie. Ek sal vir my maat/kind/vriend die geleentheid gee om ook sy/haar sê te sê.
Sagmoedigheid:
Met die aantrek van hierdie waardevolle kledingstuk kies ek om nie humeurig of aanvallend te wees nie, hoe moeilik die situasie ook mag wees. Salomo het nie verniet gesê dat ‘n sagte antwoord grimmigheid afkeer nie. (Spreuke 15:1 AFR53) Hiermee kan ek feitlik enige moeilike situasie ontlont.
Geduld / lankmoedigheid:
Hierdie baie waardevolle kledingstuk help my deur menige moeilike situasie, of dit in swaar verkeer is of in gesinsverhoudings, waar dinge nie na my sin verloop nie. Geduld (met ‘n tikkie humor) in onontbeerlik.
Vergifnis:
In verhoudings, veral tuis, is die vra vir en gee van vergifnis dikwels nodig. Dis moeilik om te moet erken dat ek verkeerd was en/of om vergifnis te vra. Dis ook absoluut noodsaaklik om hierdie vergifniskleed aan te trek sodat ek kan vergewe – 70x7 keer, soos wat Jesus ons leer.
Liefde:
Hierdie onmisbare, kosbare kledingstuk is die onvoorwaardelike liefde, wat nie deur mensehande aanmekaargesit is nie, maar van bonatuurlike oorsprong is en deur die Heilige Gees geweef is. Ek moet egter besluit om dit aan te trek en te dra, om met Jesus-liefde teenoor my naaste te reageer.
En natuurlik die allerbelangrikste: Die wit kleed van geregtigheid, wat deur die bleikmiddel van die Seun van God se bloed gewas is. Dit is die “toegangskleed”, die móét-uitrusting vir wanneer ek die hemelse verwelkomingsmaal gaan bywoon.




Comments