Kersfees vir Jesus
- Stephan Joubert
- 20 hours ago
- 2 min read
“Mag ons Kersfees vier?” vra iemand in ’n geselskap. Dadelik reageer iemand anders driftig: “Nee, ek is gekant teen kersbome en kersfeesgeskenke.”
“Hoekom?” vra ek verbaas. “Kersfees is ’n heidense fees. Dit kom uit die Romeinse tyd as fees vir een of ander god,” se sê sy.
“Nee, Christene het daardie einste fees ver-Christelik,’ waag ek dit. Toe verduidelik ek dat gelowiges die fees, wat ter ere van die songod, wat regoor die Romeinse Ryk gevier is, omskep het tot ’n fees ter ere van die koms van Christus. Dit was die gebruik daar in die Noordelike Halfrond om die oorwinning van die son oor die lang duisternis, wat met die wintermaande gepaard gaan, rondom 25 Desember te vier. Maar toe kies Christene om die koms van Jesus as die ware Lig vir die wêreld in daardie tyd te vier.
“Dis nogtans van heidense oorsprong,” antwoord sy. Toe antwoord ek dat dit nie beteken dat daardie betekenis steeds tussen gelowiges geldig is nie. Christene het van vroeg af ’n nuwe betekenis en inhoud aan 25 Desember gegee. Gelowiges het daardie feesdag met nuwe inhoud gevul. Dit is omskep tot ’n fees ter herdenking van Jesus se aankoms hier op aarde. Teenoor die viering van die oorwinning van die son het die kerk gekies om die aankoms van die ware Lig hier op aarde te vier. Ons doen dieselfde.
Ons is nie lewenslange gevangenes van enigiets net omdat dit oorspronklik ’n ander betekenis sou gehad het nie. Hoe kan Kersfees dan “heidens” wees wanneer ons as navolgers van die Here Jesus doelbewus kies om dit te vul met vars, Bybelse inhoude?
Ons vier Kersfees ook hier in 2025 tot Jesus se eer. Ons geskenke vertel Sy verhale, so ook ons manier van feesvier. Dit is juis ons getuienis dat ons nie uitgelewer is aan ander tradisies en gebruike nie. Ons kies om dit met Jesus se aankoms te vul. Ons kies om elke dag, insluitend Kersdag, reg te leef en om reg fees te vier tot Jesus se eer.




Comments