top of page

Kennis en intelligensie is nie genoeg nie

  • Roedolf Botha
  • 11 hours ago
  • 3 min read

Moes Robert Oppenheimer ooit die atoombom gebou het, of nie? Dis die vraag. Het die Tweede Wêreldoorlog werklik gevra vir so ‘n drastiese skepping van dood en vernietiging? Dis sekerlik ‘n ope vraag. Dis die vraag waarmee Christopher Nolan se onlangse fliek, Oppenheimer, spook. Die prent handel oor die proses en dinamika agter die bou van die eerste atoombomme, wat op Hirosjima en Nagasaki geval het. Die klem word veral geplaas op die geweldige imposante span van briljante fisici wat bymekaar gemaak is, en die besprekings, argumente en sosiale interaksies wat gelei het tot hierdie wapen, wat oorlogvoering vir altyd verander het. Hierdie mense was almal briljant, maar het hulle die regte ding gedoen? Een sin wat my veral redelik vroeg in die fliek opgeval het, was toe die een fisikus vir ‘n ander sê:


“Genius is no guarantee for wisdom.”

Sommige mense klink wys omdat hulle baie slim is en oor baie feite beskik. Hulle is geniaal in hulle eie veld van navorsing. Dis heel dikwels duidelik dat iemand werklik briljant is, bogemiddeld slim is en beskik oor uiters baie data en goeie argumente wat hieruit vloei. Dit beteken egter nie hulle is wys nie. Die rede is dat data en feite nog nie die finale weergawe van realiteit bevat nie. Data en feitlikhede moet eers reg geïnterpreteer word, voordat dit as wysheid beskou kan word. Agter goeie interpretasies sit belangrike elemente, soos gesonde waardes, morele perspektiewe, inagneming van alternatiewe perspektiewe en emosionele intelligensie. Iets soos emosionele intelligensie is juis belangrik, want dit beteken dat iemand bewus is van hulle eie voorveronderstellings en pyn uit die verlede en dat hulle hierdie dinge sodanig verwerk het dat hulle in ‘n oomblik van besluitneming helder kan dink en wys kan optree. Dit sit nie in enige iemand se broek nie, al is hy hoe slim. Dit gebeur dikwels dat iemand my van ‘n sekere standpunt probeer oorreed, omdat hy al die  feite in pag het. Maar ek sien dikwels dat die persoon ‘n geweldige sprong van sy “feite” af na sy gevolgtrekking gemaak het, asof die feite vanself die finale antwoord is.


Die Bybel heg natuurlik ‘n baie waarde aan wysheid. Ons moet God vra om ons wysheid te gee (Jak 1:5), nie die wysheid wat die wêreld volg nie, maar die wysheid van die kruis van Jesus (1 Kor 1:18-25), om wys om te gaan met mense wat nie glo nie (Kol 4:5). Min mense besef dit nie, maar wanneer Johannes praat van Jesus as die Logos (vertaal met “Woord”) in Johannes 1:1, dan verwys hy na Jesus as die wysheid van God. Die “Woord” is ‘n goeie vertaling, maar dit sê nie genoeg nie. Johannes probeer sê dat in Jesus al die wysheid van God menslike vorm gekry het. Wysheid is nou ‘n Persoon. Om die wêreld te skep het nie net kennis en almag van God gekos nie - dit het wysheid geverg. Jesus is die inkarnasie van God se wysheid. Eers wanneer ons Jesus volg, kan ons begin om ware wysheid in te win. Dit beteken nie dat alle Christene wys is en alle ongelowiges onnosel optree nie. Inteendeel, Jesus self het gesê dat die mense van die wêreld soms wyser is as die mense van die lig. Nadat ons Jesus begin volg het, begin ons egter ‘n lewensproses in die aanleer van wysheid. Daarom is dit so belangrik dat gelowige mense: 


  • goed sal luister en nie te gou sal praat nie (Jak 1:19-21). Want al “weet” ons soms wat reg is, is ons nie noodwendig wys in ons woorde en dade nie.

  • ... bewus sal wees van hulle eie skadelike perspektiewe en voorveronderstellings.

  • ... bewus sal wees wat die skade van hulle onverwerkte pyn is, wanneer hulle tot gevolgtrekkings kom.

  • ... die Bybel goed genoeg sal leer ken om seker te maak hulle volg die wysheid van die kruis en nie dwaasheid wat vir mense in die wêreld soos wysheid klink nie.

  • ... Jesus se liefde en genade as kompas sal gebruik om hulle besluite te rig.


Mag Jesus-volgelinge in ons mooi land altyd die mense wees wat beskik oor redelikheid in ons redenasies, insig in ons omgang met mekaar, opregtheid in ons luister na almal en liefde en genade, wanneer ons ons omstandighede hanteer.


Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page