
’n Paar koerante in die 1920’s het die storie vertel dat Charlie Chaplin een keer ingeskryf het vir ‘n kompetisie iewers in die VSA vir mense wat die meeste na Charlie Chaplin lyk. Een koerant het berig dat hy uiteindelik ’n 20ste plek losgeslaan het, maar ’n ander een het vertel dat hy 27ste gekom het. Hoe dit ook al sy, Charlie Chaplin lyk toe nie soos homself nie. Sulke dinge gebeur egter nie net in kompetisies nie. Ook in die regte lewe probeer party mense soms om soos ander mense te lyk of te wees. Hulle dink daardie mense lei blink, suksesvolle lewens; daarom probeer hulle kliphard om dit na te boots.
Feit is, ons almal het net ons eie lewe om te leef. Ons kan nooit iemand anders wees nie, al probeer ons kliphard om dit te doen. Deur die Here se genade is ons presies wie ons is. Deur sy genade het ons as onsself hier in die wêreld opgedaag. Ons hoef regtig nie soos ander mense te probeer leef nie. Ons is goed genoeg vir die Here. Hy het ons lief vir wie ons is. En ook soos wat ons is. Ons is sy lewende geskenk aan ons huweliksmaat, ons familie en ons vriende. Ons is hier om die beste onsself te wees. Dan is ons op die regte standaard. Dan doen ons goed genoeg. Dan gebruik ons daardie gawes wat die Here volgens 1 Korintiërs 12 op unieke maniere in ons lewe ingemessel het reg en effektief. Dan verheerlik ons Hom en dan dien ons ander mense reg.
Comments