Jy is meer as miljoene atome wat na-doods gaan hersirkuleer
Teks: Psalm 73:24
Die skrywer-akademikus, Alan Lightman, skep in een novelle ’n godheid genaamd Mr g. As dié ’n vrou sien sterf aan ’n ernstige siekte, weet hy die miljarde atome in haar liggaam sal nadoods hersirklueer word. Daardie sowat 21% koolstofdioksied en 10,1% waterstof in haar liggaam sal tydens haar verassing met ander gasse in die lug verbind. Ander elemente van haar liggaam sal eventueel ook deur plante opgeneem word; party sal selfs in reënwater beland en nog ander sal in suurstof, wat mense gaan inasem, omskep word. Kortom, Lightman se Mr g meen alle mense gaan net verdamp, sonder enige nadoodse geheue. Blykbaar moet mense se vreugde hier en nou dan daarin geleë wees dat hulle vooruit weet hulle is deel van die heelal se hersirkulasieproses. Dis al!
Met die lees hiervan het ek opnuut besef dat mense desperaat is om hoop te hê. As hulle dit dan nie in God kan of wil vind nie, skep hulle summier hul eie gode wat mense met sulke wetenskaplike feite probeer troos. Die beter troosnuus van die Bybel is egter dat die lewende God sy eie handewerke nie maar net laat verdamp, of laat assimileer met die res van die heelal se atome nie. Gelowiges se onwrikbare troos is dat nóg lewe nóg dood ons ooit kan skei van die Here. Ons is Syne vir tyd en ewigheid. Hier en nou ken ons Hom en eendag is ons bewustelik in sy ewige heerlikheid. Dit alles omdat Christus ons by die naam ken.
Gebed: So dankie dat ek meer is as ’n spul atome wat eendag met die res van die heelal gaan assimileer. Dankie dat ek tot in ewigheid in u teenwoordigheid mag leef.




Comments