Jesus se agterstevoor, onderstebo koninkryk
- Roedolf Botha
- 14 minutes ago
- 3 min read
Jesus se koninkryk is vreemd aan hierdie wêreld. Dis so vreemd dat indien Jesus se woorde en wysheid nie vir jou vreemd voel nie, die kans groot is dat jy ‘n slagoffer van die wêreldse invloede rondom jou is. Ek is nogal weer daaraan herinner met Steven Spielberg se 2018 fliek Ready Player One. In dié wetenskapsfiksiestorie is die hoofkarakter, Wade Watts, ‘n jongman op soek na ‘n verskuilde skat wat hy net kan kry deur deel te neem aan ‘n virtueel geskepte resies en dit te wen. Die resies is weer deel van ‘n groter virtuele spel. Hy is egter nie die enigste persoon wat daarna soek nie. Daar is letterlik honderde mense wat deelneem aan hierdie resies, elkeen met sy eie unieke voertuig, van motorfietse tot vreemde en “warmgemaakte” motorkarre. Niemand kon egter nog ooit die wedren wen nie, want die struikelblokke, lokvalle en gevare, ontwerp deur die skepper van die resies, is net te moeilik om te oorkom. Met elke resies gebeur dinge op dieselfde manier: Almal trek weg met groot entoesiasme, gedetermineerd om hierdie keer te wen. Elke keer is dit egter tevergeefs. Niemand kom tot by die wenstreep nie.
Maar toe ontdek Wade Watts die sleutel tot die wen van die resies. Dit het gebeur terwyl hy oor en oor na toesprake van die skepper van die resies geluister het. Hierin ontdek hy toe dat daar sekere leidrade gelaat is, wat die ander luisteraars nie waarneem nie. Hy volg toe in die volgende resies sy instink. Terwyl al die deelnemers soos normale mense in ‘n normale wedloop vorentoe jaag wanneer die skoot klap, doen Wade die ondenkbare: Hy sit sy kar in trurat en jaag agteruit, in die “verkeerde” rigting! Terwyl al die renjaers verstom in hulle spieëltjies kyk hoe Watts soos ‘n regte dwaas agteruitjaag, gebeur die onverwagte. Hierdie “dwase”, dom ding wat Wade doen, lei toe tot die ontdekking van ‘n verskuilde vloer en renbaan wat hom vinnig en direk na die wenstreep neem. En die prys.
Dit wat vir Wade gevoel het soos agtertoe, was toe al die tyd vorentoe.
Hierdie toneel in die fliek het my onmiddellik aan die lewe saam met Jesus laat dink. Die pad van die kruis voel vir die mense van hierdie wêreld agterstevoor. Dit voel onlogies en dwaas. Vir die meeste mense voel dit asof hulle agteruitjaag en nooit die prys sal wen nie. Tog is dit presies die manier waarop ons ontvang wat Jesus beloof het. Sy koninkryk is nie van hierdie wêreld nie en werk anders as wat ons eie insig en intuïsie vir ons sê.
Die laastes sal eerste wees en die eerstes laaste.
Indien jy wil wen, moet jy agter in die tou gaan staan.
Indien jy ryk wil wees, moet jy alles opgee.
Indien jy sterk wil wees, moet jy swak wees.
Indien jy jou vyand wil oorwin, moet jy die ander wang draai.
Die swakheid van Jesus aan die kruis is die krag van God.
As ons nie al so gewoond geraak het aan hierdie woorde nie, sou dit vir ons klink soos wat dit vir die meeste mense klink wat vreemd is aan die boodskap van die Bybel: Pure gekkigheid! Ek vind dit altyd vreemd dat mense wat hierdie teologie van Jesus goed ken, dink hulle kan as gelowiges elke dag leef soos al die ander mense wat “vorentoe” jaag in die lewensresies, met die verwagting dat hulle beter resultate as die mense van die wêreld sal verkry! Indien ons vir Jesus leef, sal dit vir ons byna altyd voel asof ons teen die stroom leef, agteruit jaag terwyl ons eintlik moet vorentoe jaag.
Die wêreld sê: “Verdedig jou regte.” Jesus sê: “Lê neer jou lewe.”
Die wêreld sê: “Gaar vir jou skatte op.” Jesus sê: “Gee jou skatte weg.”
Die wêreld sê: “Propageer jouself.” Jesus sê: “Verloën jouself.”
Wanneer ons dus soms soos gekke in hierdie wêreld voel, dan herinner Jesus ons dat ons saam met Hom op skedule is!




Comments