top of page

Jesus is die brug, al die pad na God toe en terug!

  • Stephan Joubert
  • Apr 18
  • 2 min read

Teks: Johannes 14:6


“Hoe kom ek daar aan die oorkant?” roep die ou uit toe hy iemand aan die anderkant van die rivier sien staan. “Moenie bekommer nie; jy’s klaar aan die oorkant,” antwoord die vakerige ou terug. Nou ja, regdeur die eeue wonder mense hoe hulle eendag oorkant die dood kan kom. Tog vertel die Johannes-evangelie dat die oorkant reeds deurgebreek het hier na ons kant toe. Jesus het God se nuwe lewe al die pad hierheen gebring. Dit is nou hier. Nee, Jesus is nou hier. Hy het die onoorbrugbare pad van die anderkant af eiehandig na ons toe oorgesteek. O ja, Hy is ook die pad terug soontoe. Jesus is die enigste brug al die pad na God toe en terug!


Ons hoef nie tot ons eie dood te wag om die anderkant te bereik nie. Daardie soort lewe, wat tot in ewigheid nooit sal ophou nie, gebeur vandag reeds. Ja, jy het reg gelees. Daardie ewige lewe is nou reeds hier. Oor en oor sê Jesus in die Johannes-evangelie dat elkeen wat in Hom glo, nou al die ewige lewe het. Jesus Self is hierdie lewe. Hy is dit hier en nou reeds. Ook is Hy dit tot in ewigheid. Geloof in Christus is die enigste sleutel tot nuwe lewe, wat tot ’n ewigheid anderkant die dood sal aanhou. Geloof ontsluit die deure na daardie ewige Oorkant, wat reeds in Christus hier tussen ons aangebreek het. Hy is God se groot geskenk aan ons almal. Glo elke dag in Hom en leef … vir ewig.


Gebed: Dankie, Here, dat U vir altyd nuwe lewe gee. Dankie dat ek hieraan mag deel hê.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page