Is daar ’n doel met alles in die lewe?
- Stephan Joubert
- 3 days ago
- 2 min read
Teks: Johannes 6:38
Halwe waarhede oor God word jare lank in stand gehou sonder dat ’n haan daaroor kraai. Een so ’n halwe waarheid is dat alles in die lewe volgens ’n onveranderlike hemelse meesterplan gebeur. En dat daar ’n doel met alles is. Dit is maklik vir mense om sulke idees te glo totdat die dood wreed toeslaan. Wanneer iemand naby aan hulle byvoorbeeld op ‘n onnatuurlike manier sterf, is dit skielik nie meer so maklik om te glo alles in die lewe is in klipharde sement gegiet nie. Dit verander God immers in ’n harde Despoot.
Die probleem met hierdie halwe waarheid dat alles volgens ’n vaste plan gebeur is dat God ’n baie donker kant moet hê. Dan is Hy nie eintlik ’n God van liefde en genade nie. Dan moet Hy dinge soos moord, motorongelukke en Covid-19 vooruit beplan om sekere mense te laat sterf, wanneer hulle strepie die dag getrek is. Die waarheid is dat God wel ’n Plan het, maar die Bybel dink nie fatalisties hieroor nie. Die Bybel verstaan God se plan vanuit Christus se groot reddingsaksie, volgens Johannes 6:38-40. God se plan is dat niks in hierdie lewe Sy kinders ooit kan skei van Sy liefde nie. Sonde en dood is teen Sy wil, maar Hy voer Sy plan deur om ons vir tyd en ewigheid te bewaar. Genadiglik is ons nie uitgelewer aan ’n God wat harde planne gemaak het wat nie eens Hyself kan verander nie. Ons hoop en troos is dat ons in lewe en in dood aan Christus behoort.
Gebed: Dankie, Here, dat U nie wreed of wispelturig is nie. Dankie, Here Jesus, dat U die gesig van God se plan is.




Comments