Hoogmoed en die effek op verhoudings
- Elmarie van der Westhuizen
- 12 minutes ago
- 2 min read
“God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” – Jakobus 4:6
Trots en hoogmoed is subtiel. Dit is een van die oudste sondes en glip ongesiens by my gedagtes in, sonder dat ek eers daarvan bewus is: “Ek kan dit sonder hulp doen...”, “Ek weet die beste...”, “Ek verdien meer."
In die alledaagse lewe kan die gevolge van trots en hoogmoed maklik raakgesien word. Dis wanneer ek, wat met sukses geseën is, begin glo dat dit my harde werk is en vergeet dat alles ‘n geskenk van God af is. Ek mislei myself deur te dink dat ek beter is as wat ek is en beter verdien as wat ek het. Ek dink ek verdien God se genade en mense se lof. Ek dink ek verdien liefde, sukses, vertroosting, lofbetuigings en beslis nie lyding, hartseer of dissipline nie.
Trots en hoogmoed se skadelikste effek is egter op verhoudings. Dit sê vir my dat ek God nie nodig het nie – ook nie ander mense nie. Dit het die vermoë om afstand en verwydering tussen my en God en tussen my en ander te bring.
Trots kan in verhoudings sy lelike kop uitsteek as verdedigende gedrag, 'n onwilligheid om my foute te erken. 'n Huwelik of vriendskap omdat geeneen die eerste stap na versoening wil neem en vrede maak nie. Soos die pa en sy volwasse seun, wat 'n argument gehad het. Albei voel seergemaak, maar nie een is bereid om die eerste stap te neem om vrede te maak nie. Die pa dink: "Hy moet my respekteer en eerste kom regmaak." Die seun dink: "Hy was verkeerd, so hoekom moet ek om verskoning vra?" As gevolg van trots verander maande in jare van stilte. Verjaarsdae en vakansiedae gaan verby sonder 'n woord tussen hulle. Albei is innig lief vir mekaar, maar trots het 'n muur tussen hulle opgerig. Wat genees kon word met 'n nederige "Ek is jammer, kan ons gesels?" het 'n diep wond veroorsaak.
Só verhinder trots dat ons mekaar vergewe of genade aan mekaar bewys. Nederigheid, aan die ander kant, sou vryheid, versoening en vrede kon bring.
Jesus het aan my die perfekte voorbeeld gegee. Alhoewel Hy in wese God was, het Hy Homself verneder, 'n dienaar geword en Sy lewe vir my gegee (Filippense 2:5–8).
In Hom sien ek dat ware grootheid in nederigheid, diens en oorgawe aan God gevind word en om daagliks in afhanklikheid van Hom te leef. Hy wil hê dat ons mekaar met dieselfde agape-liefde moet liefhê waarmee Hy ons lief het. By Hom leer ek dat nederigheid die weg na vryheid, vrede en blywende vreugde in Hom is. Hierdie vrug van vryheid, vrede en vreugde is dan ‘n seën en inspirasie vir ander.




Comments