Het jy al ‘n plan om die wêreld te verander?
- Stephan Joubert
- 15 hours ago
- 2 min read
Teks: Markus 8:34
Almal wil die wêreld verander. Almal wil hê dinge moet anders wees. Almal wil hê die kerk moet vol lewe wees en die land moet ’n beter plek wees. Tog het min mense ooit ‘n plan, wat nog te praat van ’n werkbare een! Diegene wat wel sulke planne het, voer dit selde deur. Dit lyk my iets meer is nodig as net om goeie planne in plek te hê. Ek praat van 'n dinamiese plan wat so groot en lewensverskuiwend is dat jy bereid is om jou hele lewe eksklusief daaraan te wy.
Nog altyd het daardie klein groepie mense wat die regte impak het, agter Iemand aangeloop wat groter is as al hulle drome en ideale. Ek praat van Christus. Diegene wat Hom regtig volg met alles in hulle, het geleer om hulle eie planne in te ruil vir Syne. Hulle het hulle eie drome ingeruil vir sy kruis. Hulle weet dit is Jesus se plan om God se koninkryk orals op aarde te laat inbreek. Daarom is dit ook deel van hulle daaglikse agenda. Jesus se hartseer oor al die donkerte in die wêreld is ook hulle las. Sy opstand teen godsdienstige skynheiligheid is ook hulle eie frustrasie. Christus se hoop vir nuwe gemeenskappe waar God se geregtigheid en liefde wen, is ook hulle lewenslange padkaart. Hulle leef hierdie plan uit, want Jesus het Sy hart oorgeplant in hulle, wat sy kruis se gewig op hulle eie skouers voel. Sy hart klop ook in hulle.
Is jy ook ’n kruisdraer wat Jesus se plan agterna leef en doen?
Gebed: Here Jesus, laat U kruis elke dag op my eie skouers rus. Maak asseblief U plan myne. Leer my om dit elke dag te doen.




Comments