top of page

Handhaaf ’n gesonde volgafstand in ander se lewens

  • Stephan Joubert
  • Jul 24
  • 2 min read

Teks: Spreuke 21:23


Hands off!” “Hou jou afstand!” Ek moes hierdie les al ’n paar kere op die harde manier leer. Ek raak net te betrokke by ander mense se lewens. Ek wil graag hê hulle moet slaag. Ek wil nie hê hulle moet swaarkry of sukkel nie. Maar ek moes ook leer dat mense graag hulle eie stem wil behou. Hulle wil voel dat dit wat hulle bereik, ook te danke is aan hulle eie pogings en harde werk. Wanneer ander te betrokke raak by hulle eie projekte of aktiwiteite, voel dit later asof hulle hierdie vryheid prysgee. Jack Nicholson se woorde in die fliek Bucket List het my ook gehelp om die regte volgafstand in plek te kry wanneer betrokkenheid in ander se lewens ter sprake is. Iewers in die film sê hy vir sy medeakteur, Morgan Freeman: “Just because I told you my story, does not invite you to be a part of it.” Net so!


Natuurlik verwag die Here van ons om na mekaar om te sien. Maar dit verander ons nie in “busy bodies” wat ongenooid of beterweterig  in mense se lewe mag inmeng nie. Ons verantwoordelikheid om daar te wees in Sy Naam beteken nie ons kan dit doen soos wat dit onsself pas nie. Of dat ons ongenooid kan instorm in mense se lewens en vir hulle sê wat ons wil nie. Ons moet bid vir die nodige wysheid om te weet wanneer om te help en wanneer om terug te staan. Tussendeur is dit oorgenoeg om net daar vir mekaar te wees.


Gebed: Ek benodig ’n groot porsie onderskeidingsvermoë, o Heer. Onderrig my sodat ek sal weet wanneer om te praat en wanneer om stil te bly.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page