top of page

God se hart vir seer verhoudings

  • Elmarie van der Westhuizen
  • 36 minutes ago
  • 2 min read

“It is because we are created in the image of the Trinity that loneliness is so crushing, that broken relationships are so debilitating, that death is so painful. Lack or loss of relationships violates our essential nature, created to reflect the relational essence of God.” – Darrell Johnson (“Experiencing the Trinity”)


God het ons sosiale wesens gemaak (Gen 1:28) en 'n behoefte aan verhoudings in elkeen van ons geplaas, eerstens met Homself en dan met mekaar. Sy volmaakte selfopofferend liefde is die basis van alle verhoudinge. Die Woord sê ook dat ons as Christene eenvoudig nie sonder mekaar kan funksioneer nie. (1 Korintiërs 12)


Maar verhoudings bly nie altyd heel nie. Misverstande, selfsug, geld, trots en seer laat selfs noue verhoudings verbrokkel. Hierdie verlies van ‘n kosbare verhouding is altyd ontstellend en die pyn kan jou jare lank agtervolg.


Die onlangse openbare uitval van die Beckham-gesin in die nuus en sosiale media wys weereens hoe broos verhoudings kan wees. Ook hoe moeilik dit is om weer die verhouding te versoen, indien dit enigsins moontlik is. Dit is nie ongewoon nie.Onlangse navorsing deur Forbes (die bekende internasionale mediamaatskappy) berig dat 10% van ma’s in Amerika tans vervreem is van ten minste een volwasse kind en 40% van deelnemers op een of ander stadium gesinsvervreemding ervaar het.


Die Bybel is vol gebroke verhoudings, wat God herstel het, o.a. Jakob en Esau wat deur Jakob se bedrog uitmekaargeskeur is. Jare later is hulle weer versoen, terwyl hul trane vrylik gevloei het (Genesis 33). So ook het Josef sy broers, wat hom in slawerny verkoop het, vergewe. 


God het deur Jesus my stukkende verhouding met Hom kom versoen. Ek kan Sy liefdevolle optrede volg deur dieselfde te doen met dié wat iets teen my het: “Wanneer jy jou offergawe by die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer  ...” (Matteus 5:23–24 Afr20). 


Maar soms, ten spyte van ons beste (maar onvolmaakte) pogings, misluk verhoudings, is dit so erg beskadig dat algehele herstel nie moontlik is nie. God is egter altyd aan die werk om genesing, groei en vrede te bring. As ons in Sy voetspore volg, kan gebroke verhoudings later getuienisse van genade word.


 ‘n Vriendin vertel hoe haar suster na haar ma se dood alle bande met die familie verbreek het. Eers na 8 jaar is hulle weer versoen. In hierdie tyd het die vriendin nooit opgehou bid vir die herstel van die verhouding nie.  


Verhoudings is kosbaar, die moeite werd om voor te veg, voor te bid en geskille deur te werk. Soms is die beste geneser egter tyd, gebed en tyd. God, wat ons vir verhoudings gemaak het, is ook die God wat herstel en genees - daarom hou ons aan om te bid. 

The Holy Spirit makes it possible for us to love like Jesus loved, which is impossible without him.” - John Bloom

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page