top of page

God het ons nie as klone of fotostate van mekaar geskep nie

  • Stephan Joubert
  • 1 day ago
  • 1 min read

Ons almal ken die woord “skynheilig”. Nie een van ons hou daarvan om dit te wees nie. Om skynheilig te wees is om iets voor te gee wat ons nie is nie. Dit is eintlik om iemand anders se lewe by hulle te leen. Januarie Ellen Harrison (1850-1928) het so ’n soort lewe as “masquerading” getipeer. Sy beskryf dit as: “… putting on the mask of another’s features, dress, experiences, emotions …” 


Die prys van sulke nabootsing van ander is veels te hoog. Ons kan goed en sinvol leef as ons onsself is in die teenwoordigheid van God en ander mense. Ons kan net tot eer van God leef as ons is wie Hy ons bedoel het om te wees. Ons hoef regtig nooit soos ander mense te probeer wees nie. God het ons nie as klone of fotostate van mekaar geskep nie. Hy het ons elkeen uniek gemaak. Hy het net een unieke gietvorm vir ons elkeen gebruik. 


Ons raak vry van enige vorm van “masquerading” as ons toelaat dat die Here ons karakter vorm. Ons vertrou Hom om ons uniek-aantreklik op Sy eie manier te maak. Ons vertrou Hom om selfsug, arrogansie en skynheiligheid uit ons lewe te verban. As ons dit doen, voel ander mense veilig en geborge in ons nabyheid. Dan is hulle nie bang dat ons hulle sal verwond met ons woorde en dade nie. Of dat ons hulle sal uitbuit vir ons eie gewin nie. In God se veilige teenwoordigheid gedy ons uniekheid, asook dié van ander mense. Dan neem Sy beeld in ons die regte vorm aan. 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page