top of page

God het nie verskuilde kante nie

Stephan Joubert
5 hours ago
1 min read

Ons is nie geroep om alles in die lewe te verstaan of te verklaar nie. Ook skuld ons nie antwoorde aan almal oor elke denkbare geloofsvraag, probleem, of krisis nie. Daarom verval ons nooit in oorhaastige clichés soos dat God op misterieuse wyses werk nie. God is nie ’n misterie nie, nie in die sin dat Hy totaal onbegrypbaar en onkenbaar is nie. God het Homself genoegsaam in die Bybel bekendgemaak sodat ons in ’n verhouding met Hom kan leef. Sy wil is ook nie in ’n misterie gehul nie. Jesus self beliggaam Sy wil. Hy voer dit ook uit, soos wat Hy ons in Johannes 6:38-40 leer. 


God is kenbaar, dienbaar en verstaanbaar. Ja, Hy is oneindig groter, heiliger, sterker, meer liefdevol en veel genadiger as alles wat ons van Hom af weet. Nooit kan ons die Here vasvang in ons eie idees en woorde nie. Maar ons weet nogtans Hy is nie anders as hoe Hy Homself in die Bybel bekendmaak nie. God het nie verskuilde kante nie. Of donker kante nie. Hy is altyd wie Hy is. Tereg sê Hebreërs 13:8: “Jesus Christus is altyd wie Hy is. Hy is altyd getrou aan Homself, of dit nou gister is, of vandag, of tot in die verste ewigheid.” (NNT) Hy is altyd goed en vol ontferming en genadig. Hy is altyd ons Heer.


Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page