God giet nie alles in die lewe in sement nie
- Stephan Joubert
- 2 hours ago
- 2 min read
“Kan ek jou teekoppie lees?” vra ‘n tannie my eendag uit die bloute. “Hoe bedoel Tannie?” wou ek dadelik weet. “Die teeblare onder in die koppie vertel jou toekoms,” sê sy. Toe sluk ek my hele toekoms net daar in van pure skrik. Miskien is dit hoekom ek steeds nie tee se vernaamste bewonderaar is nie. Ek wil darem nie elke slag met sulke “feite” op die bodem van elke liewe teekoppie gekonfronteer word nie.
Dit lyk my mense sal enigiets doen om die toekoms te ken en voorspel. Nie eens gelowiges ontsnap van sulke dinge nie. Wie weet hoeveel keer het ons nie in 2025 deurgeloop onder “profete” wat presies weet hoe die wêreld se toekoms gaan afspeel, of wanneer een of ander wegraping gaan plaasvind nie. Daarom troos dit my om te weet dat slegs God die toekoms ken. Die toekoms is Syne. Ek hoef nie my kop hieroor te breek nie.
Baie mense is behep met die toekoms omdat hulle blindelings in die noodlot glo. “Alles gebeur met ’n rede” is hulle mantra. Dit onthef hulle van enige aanspreeklikheid. “Wat moet gebeur, sal gebeur.” So glo hulle.
Genadiglik giet God nie alles in die toekoms in sulke lewelose sement nie. In Jeremia 18 sê die Here byvoorbeeld dat Hy nog besig is om planne te maak. Dis nog nie afgehandel nie. As Israel hulle bekeer, sal God Sy planne aanpas. Nee, God is nie wispelturig nie. Sy toekomsplanne is altyd in lyn met wie Hyself is. Hy is Immanuel. God is by ons. Daarom is die toekoms nooit onseker nie. Ons kan God regtig hiermee vertrou. Intussen leef ons elke dag tot Sy eer.




Comments