Geloof word nie sommer net so verloor nie
- Stephan Joubert
- Aug 8
- 2 min read
Teks: Johannes 10:28
“Ek het my geloof verloor,” vertel iemand half sarkasties in ’n gesprek. “Dit is nog niks nie - ek het twintig rand verloor,” reageer iemand anders droogweg. Terwyl almal verleë lag, wonder ek by myself hoe verloor ‘n mens jou geloof so maklik? Ek meen, hoe gebeur dit presies? Toe dink ek dit kan slegs gebeur as jy aan geloof dink as een of ander item, objek of besitting, waaroor jyself volledige beheer het.
Geloof is nie ’n skakelaar wat jy kan aanskakel en afskakel soos wat dit jou pas nie. Geloof, soos wat die Bybel hieroor praat, is ’n lewende verhouding met God. In hierdie verhouding is jy die verlore eiendom wat deur die Goeie Herder teruggevind is, soos wat Jesus in Lukas 15 vertel. Hy het juis hiernatoe gekom om Sy Vader se kosbare eiendom te kom opsoek. Hy kon dit nie vat dat Sy Vader se aardse eiendom hier in die wind en die weer van sonde en dood en verlorenheid rondhang nie. Jesus is die Een-Man-soekgeselskap uit die hemel wat verlorenes kom soek totdat Hy hulle vind. Dan dra Hy hulle eiehandig terug na God se feessaal toe. As jy dus dalk daaraan dink om jou geloof te verloor, of as jy van iemand anders gehoor het wat so iets oorgekom het, onthou dan God spesialiseer in die soek en vind van verlore items. Hy laat Homself nie so maklik verloor nie! Nog minder gee Hy diegene wat Hy gered het, prys. Hy dra Sy skape in Sy eie hand rond.
Gebed:
Dit is sulke goeie nuus dat ek ook deur Uself opgespoor is. Hou my vandag styf vas, Heer.
Comments