top of page

Geloof gebeur só in 2026

  • Stephan Joubert
  • Jan 12
  • 1 min read
  • Sê vanjaar meer dankie en vra minder wanneer jy bid. Loof en dank God meer. Kla minder.

  • Skuif vanjaar jou manier van kyk. Sien God se goedheid heel eerste in ander mense raak, nie dit wat hulle verkeerd doen nie. Moenie ’n voltydse foutvinder wees nie. Wees eerste ’n genade-raaksiener. Sien eerste raak hoe God Sy kinders verander om Sy heerlikheid te weerspieël (2 Korintiërs 3:18). Sê ook heel eerste vir Hom dankie vir die geloofsgroei wat jy in hulle lewe opmerk (1 Tessalonisense 1:2-10).

  • Dien vanjaar meer en dreig minder. Doen elke dag goed aan iemand. Moenie dreig nie, doen dit net. Moenie uitstel tot môre nie, doen dit vandag nog, soos wat Spreuke 3:27-28 jou leer. Moenie mense wegstuur met leë hande terwyl dit binne jou vermoë is om hulle vandag reeds te help nie.

  • Laai vanjaar opbouende taal op jou tong (Efesiërs 4:29). Laat jou woorde altyd sag wees. Laat dit soos water wees vir die vuur (Spreuke 15:1). Moenie in twisgesprekke betrokke raak nie (2 Timoteus 3:24). Moenie met dwase stry nie, maar moenie toelaat dat boelies en bullebakke sê net wat hulle wil nie. Spreek hulle ferm aan, wanneer nodig (Spreuke 26:4-5).

  • Tree vanjaar in die bres vir mense in nood. Bevriend God se vriende. Ek bedoel daardie vriende na wie Hy verwys in Psalm 146. Hy ontferm Hom hier oor verdruktes, hongeriges, gevangenes, blindes, terneergedruktes, vreemdelinge, weduwees, weeskinders en regverdiges. Doen dieselfde. Dan doen jy jou geloof reg.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page