Gee jou lewe weg, maar doen dit reg
- Stephan Joubert
- May 5
- 1 min read
Karl Schmidt was ‘n bekende Amerikaanse herpetoloog. In 1957 het die Lincoln Park Dieretuin hom gevra om ’n slang uit Afrika te identifiseer. Op 26 September het hierdie einste slang hom gepik. Schmidt het gemeen dit is ’n boomslang, maar om heeltemal seker te maak, het hy alle vorms van mediese hulp geweier. Sy rede volgens The Chicago Daily Tribune was as volg: “That would upset the symptoms.”
Schmidt het voortgegaan met sy werk en al sy simptome neergeskryf. Ongelukkig was hy 24 uur later dood. Hy was reg. Dit was toe ‘n boomslang.
Baie van ons wil graag leef en sterf vir ’n droom, wat groter as onsself is. Of jy egter jou lewe moet opoffer vir die identifisering van ’n boomslang, is ‘n ander vraag. Dit is ‘n verkeerde keuse. Dan kies ek ‘n miljoen maal eerder Jesus se pad van opoffering en verlies. Sy pad is een van alles of niks. Jesus roep ons op om Sy kruis te dra. Hy vra ons hele lewe vir Homself. Maar hierdie radikale keuse bring ‘n nuwe vryheid en ‘n nuwe vreugde mee. Dit lei tot ’n nuwe lewe, wat deur voltydse liefde vir God aangevuur word. Dit lei ’n onselfsugtige lewe van diensbaarheid teenoor ander mense en gee aanleiding tot groter sorgvryheid in die Here.
Gee jou lewe betyds weg. Doen dit reg. Gee jou lewe vir Christus.
Comentarios