Feit is …
Teks: 1 Petrus 3:9
FEIT IS: Ons mag nooit arrogant, traak-my-nie-agtig of ongeskik optree nie. Nooit nie! Anders word dit spoedig ook deel van ons normale gedrag.
FEIT IS: Niemand van ons is ooit te belangrik of te vol van onsself om te doen wat ons wil, of om te sê wat ons wil sê nie. Ons dade en ons woorde het gevolge, of ons onbekend is, of selfs wêreldberoemd. Ons moet dink wat ons doen. Ons moet ons woorde tel. Dit is wat die Here van ons vra. Ons moet sorg dat ons dade en woorde voortspruit uit ons karakter wat gevorm word in die God se heilige teenwoordigheid.
FEIT IS: Ons maak nooit flou verskonings vir ons eie foute of vir ons goor gedrag nie. Ons aanvaar aanspreeklikheid hiervoor en hanteer dit. Ons gaan vra om verskoning as ons ander benadeel het. Ons stel reg waar ons verbrou het.
FEIT IS: Ons gaan nooit slordig om met ander mense nie. Mense is nie ons bediendes of persone wat ons kan hiet en gebied soos wat ons wil nie. Ons geloof veroorsaak dat ons altyd mense se uniekheid en hulle menswees hoog ag. In elk geval wys die maniere hoe ons optree teenoor diegene wat in ons oë dalk minder belangrik as onsself is, of ons regtig respek vir ander het. Doen dit dan reg en leef met integriteit, daardie soort wat God gedurig in ons bewerk.
Gebed: Ek wil net U feite in die oë kyk. Ek gaan my eie lewe vandag inrig aan die hand van U voorskrifte.




Comments