top of page

Eureka, ek is gevind!

  • Stephan Joubert
  • May 12
  • 2 min read

Die Griekse werkwoordsvorm “eureka” (ek het gevind), word steeds as ‘n uitroep gebruik. Ons verbind hierdie uitroep veral met die ou Griekse wiskundige, Archimedes (287-212 vC). Blykbaar het hy eendag in sy bad agtergekom dat die volume water, wat hy verplaas het, gelyk is aan sy liggaamsvolume binne-in die bad. So opgewonde was Achimedes hieroor dat hy vergeet het hy hardloop kaal in die straat rond terwyl hy uitroep: “Eureka!” 


Dis nie net Achimedes wat sulke eureka-ervarings ken nie. ‘n Paar keer in die Griekse teks van die Johannes-evangelie se eerste hoofstuk kom hierdie woord voor. Dit gebeur wanneer mense in Jesus vasloop. Hierdie ervarings begin met Andreas wat in vers 41 sy broer Petrus “vind”. Dan vertel hy opgewonde vir hom: “Ons het die Messias gevind!” (eurēkamen). In vers 45 lees ons ook hoe Filippus vir Nataniël vind (euriskein) en vreugdevol vir hom sê: “Ons het Jesus gevind” (eurēkamen).


Eureka is nie net ‘n informatiewe vind-oomblik nie - dis ‘n lewensveranderende AHA-ontdekking. ‘n Paar jaar gelede het Mark Jung-Beeman en sy span, wat ook die fisiologie van AHA-ervarings bestudeer, bevind mense se breingolwe verander direk voor sulke oomblikke van insig. Hulle gesigsuitdrukkings verander ook. Sulke innerlike veranderings is lewensveranderend. In Johannes 1 het dit met elkeen gebeur wat in Jesus vasgeloop het. Andreas en Filippus se getuienis van hul eureka-oomblikke saam met Jesus het hulle in nuwe mense verander. Toe moes hulle hierdie ervaring eenvoudig met ander mense deel. Sulke eureka-oomblikke saam met Jesus gebeur vandag nog. Dit gebeur wanneer jy en ek toelaat dat Hy ons verras en oorweldig met Sy goedheid. Jy sal goed weet as Jesus jou gevind het en jy vir Hom. Eureka!

Commentaires


Les commentaires sur ce post ne sont plus acceptés. Contactez le propriétaire pour plus d'informations.
bottom of page