Sulke baasspelery het lankal ‘n vervaldatum bereik
- Stephan Joubert
- 1 day ago
- 2 min read
Mag ek vandag aansluit by ‘n gedeelte wat ek in Januarie ook in die daaglikse kolom wat ek vir Beeld op Netwerk24 behartig, geskryf het.
Skrifgeleerdes het Deuteronium 24:1 gereeld gebruik om egskeiding te regverdig in die tyd toe Jesus op aarde was. Daarvolgens mag ‘n man wat iets onrein of onbetaamlik by sy vrou aantref, wettiglik van haar skei.
Voordat ons Jesus se reaksie hierop aanhoor, moet ons eers by Genesis ’n draai maak. Genesis 2:18-20 vertel hoe God ’n helper aan die mens gee. Adam was aanvanklik alleen. God skep toe vir hom ’n helper, ‘n ēzer in Hebreeus. Hierdie woord, wat vir God self gebruik word in gedeeltes soos Psalm 121:1-2, dui daarop dat die vrou geskep is as gelyke om die man te help, bedoelend, sy kan baie dinge beter doen. (Dis hoekom een van my predikantsvriende, Pieter Jordaan ēzer met “lewensredder” vertaal.)
Maar toe daag sonde op. As straf hierop in Genesis 3:16 het manlike baasskap en dominering ook op die toneel verskyn.
Manlike dominering oor vroue is hoegenaamd geen seën nie. Jesus stel dit reg in Markus 10. Wanneer die godsdienstige leiers Hom nou probeer vasvra aan die hand van Deuteronomium 24 oor hoe mans wettiglik van hulle vroue mag skei, sê Hy dis vanweë hulle klipharde harte dat Moses in Deuteronomium 24 sulke goor keuses toegelaat het.
Dan neem Jesus hulle terug na Genesis 2 toe as God se oorspronklik plan. Jesus herstel nou hierdie oorspronklike Genesis-balans. Nie baasspelery nie, maar respek, liefde en diens triomfeer weer. Die straf is nou af. Die vrou is weer ’n helper. Die man is bevry van dominering. Die paradys is weer oop. Nou kan ons mekaar vreugdevol op die hande dra. Die vervaldatum op dominerende baasskap het Jesus self bewerkstellig.




Comments