top of page

Ons is nie klikstrikkers nie

  • Stephan Joubert
  • 13 minutes ago
  • 1 min read

Die Engelse term clickbait word in Afrikaans met klikstrik vertaal. Dit hou verband met al daardie sensasie-aangedrewe opskrifte, tekste en digitale trekpleisters wat ons aanmoedig om op een of ander skakel te kliek. Of een of ander artikel te lees. Meestal wemel sulke skakels se inhoud van blatante fopnuus of halwe waarhede wat mense blindelings glo en verder deel.  


Van klikstrikke gepraat - ek wonder of dit ook ’n klikstrik is wanneer party mense sê: “God is eerste in my lewe.” Party besigheidsprofiele en sommige bekendes benut dit graag, maar sonder om enige pogings aan te wend om dit te bewaarheid. “God eerste” is soms net leë, manipulerende woorde. 


Nou ja, sulke klikstrikkers mag ons nie in skeptici verander wat veroorsaak dat ons almal se woorde en bedoelings byvoorbaat betwyfel nie. As ons eerlik met onsself is, leef ons ook nie elke dag volgens die Here se standaarde nie. Kom ons aanvaar dus dat dit tyd neem vir regte vrugte van geloof om vorm in ons eie lewe en in die lewens van ander rondom ons aan te neem. 


God is geduldig met ons almal. Sy genade is nie vir volmaakte mense bedoel nie, maar vir mense soos ons wat worstel om elke dag op die regte koers te leef. Daarom skuld ons ander mense ook dieselfde genade as wat ons elke dag vir God vra om aan ons te bewys. Nogtans gee dit nie aan enigeen van ons die reg om godsdienstige klikstrikkers te wees nie. Ons leef eg en opreg. Ons leef met integriteit. Ons leef deursigtig soos wat God van ons vra.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page