top of page

Oefen die regte kyk in

  • Stephan Joubert
  • 1 hour ago
  • 2 min read

William Blake (1757-1827) se bekende woorde: “As a man is, so he sees,” is tydloos waar. Ons sien altyd wat ons verwag om te sien. Die lense van ons hart en ons verstand bepaal hoe ons kyk. Dit bepaal ook wat ons eerste raakkyk. As moeilikheid en slegte nuus op die voorgrond van ons lewe is, gaan ons dit eerste raaksien. En andersom. 


Dit vra ’n nuwe hart om anders te kyk en anders te sien. Vra gerus vir Paulus. Toe hy in Handelinge 9 in Jesus op die pad na Damaskus vasgeloop het, was hy vir ‘n volle drie dae lank blind. Daarna het hy weer begin sien. Maar hy het van toe af anders gesien. Hy het slegs die Here raakgesien, nie donkerte en moeilikheid nie. Paulus het geweet hy is  van kop tot tone ‘n nuwe mens. Hy het nie net ‘n nuwe hart gekry nie, maar ook ‘n nuwe kop, nuwe hande, voete en oë. 


Dit verg geloof en inoefening om die Here eerste raak te kyk en om sy goedheid in mense se lewe raak te sien. Tereg skryf Georgia O’Keefe: “It does not come easily to us, true noticing - that transmutation of looking into seeing. We must apprentice ourselves to it daily. It is our life’s work.”  


Ons moet elke dag by die hemelse deure gaan aanklop en vra vir daardie oogsalf van Jesus wat Hy in Openbaring 3 vir die kerk in Laodisea aangebied het. Hy leer ons om hartlangs eerste te sien. Hy leer ons om God se goedheid eerste raak te kyk. 


Mag ons in 2026 elke dag anders kyk. Mag ons heel eerste die Here se goedheid raakkyk en nie alles wat stukkend en verkeerd is nie. Mag ons heel eerste Christus raaksien, voordat ons ander se foute raaksien. Mag ons so oorweldig word deur ons nuwe visie van Christus dat dit sigbaar word in alles wat ons sê en dink en doen.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page