top of page

Ek is vreugdevol en heilig

  • Stephan Joubert
  • Sep 5
  • 1 min read

Teks: Hebreërs 2:11


Een van die karakters in E.M. Forster se bekende werk,“A Passage to India” merk by

geleentheid op: “I am a holy man without the holiness.” Vir die meeste mense is die woord “heilig” enigiets vanaf ’n spotwoord, tot ’n term om werklikheidsvreemde mense mee te beskryf. In godsdienstige kringe is heiliges diegene wat in afgesonderde plekke leef, soos in kloosters. Of dit verwys na sekere indiwidue wat lankal dood is en tot “saints” verklaar is.


Lewende gelowiges kwalifiseer blykbaar nie meer vir die term “heilige” nie. Paulus

kies om te verskil. Hy weier om toe te gee dat heiliges “yesterday’s news” is. Die

term “heilige” is juis een van sy gunsteling aanspreekvorms vir alle gelowiges.

Paulus ken die boek Levitikus, wat leer dat God se volk heilig moet leef, want Hyself

is heilig. Maar Paulus verstaan heiligheid heel eerste as gelowiges se nuwe status

voor God. Dit is ons almal se identiteit. Dit is wie ons nou is. Op ons elkeen wat glo

is daar ’n plakker aangebring met die woorde: “God se ekslusiewe eiendom”. Ons

behoort aan die Here. Ons is duur gekoop. Daarom moet ons ook heilig leef. Dit

beteken nie ons is teen alles nie. Ons word nie gekenmerk aan alles waarteen ons

van vroeg tot laat gekant is nie. Ons as heiliges is mense wat God liefhet en sy

gebooie gehoorsaam. Ons as heiliges is mense wat goed doen aan ander in die

Here se Naam. Ons as heiliges leef vreugdevol vir die Here.


Gebed:

Here, Uself verklaar my heilig. Daarom leef ek vandag hierdie eretitel met

vreugde in U teenwoordigheid uit.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page