Eerlikheid is ons normale manier van leef voor God en tussen ander
- Stephan Joubert
- Jul 18
- 2 min read
Teks: Spreuke 12:22
Daar word vertel dat die Siniese filosoof, Diogenes (412-323 v.C.), bedags met ’n lamp rondgeloop het. As mense hom gevra het wat doen hy, het hy graag geantwoord dat hy op soek is na ’n man. Die mense het afgelei Diogenes bedoel hy was op soek na ’n eerlike man. In geen stad kon hy blykbaar so iemand raakloop nie, nie eens in die helder daglig nie. Eerlike mense het hom altyd ontwyk.
Eerlikheid is vandag ewe skaars as in die tyd van Diogenes. Leuens, oneerlikheid en bedrog werk blykbaar veel beter vir die meeste. Te veel mense lieg en bedrieg hulle pad oop, of is dit dalk toe? In elk geval, die stereotipe is dat dit moed kos om eerlik te wees. Wag! Stop! Is dit regtig so moeilik as wat mense graag voorgee? Wanneer eerlikheid een van die boustene van ons verhouding met die Here is, is dit tog deel van ons normale leefwyse. Dan gebeur eerlikheid nie net insidenteel of episodies nie. In gewone taal gesê: Dan gebeur eerlikheid nie net op sekere tye of binne sekere situasies, wat onsself pas nie. Eerlikheid gebeur dan ook wanneer dit ons juis nié pas nie en wanneer dit vir onsself ongemaklik is om eerlik te wees. Eerlikheid is ons normale manier van leef in God se teenwoordigheid en tussen ander mense. Ons is eerlik, want ons dien die God van eerlikheid. Die waarheid seëvier altyd in Sy nabyheid. Daarom seëvier dit ook in ons lewe! Ons praat en leef die Here se waarheid.Gebed: My lewe is in U hand, Here. Maak my vandag eerlik en opreg in U diens.
Gebed:
My lewe is in U hand, Here. Maak my vandag eerlik en opreg in u diens.
Comments