top of page

Die probleem: Ons word groot

  • Stephan Joubert
  • 20 minutes ago
  • 2 min read

Teks: Matteus 18:3


Die probleem met ons almal is dat ons opgroei. Ons word groot. Dan bly ons groot. Dan is ons volwasse. Of soos wat ek aldag sê: vol-wasse! Dan is ons ore behoorlik verstop. Ons as grootmense het die lewe klaar uitgesorteer. Daarom het ons min vrae, maar baie antwoorde. Ons het die meeste van ons geleenthede ingeperk, of ons het hulle almal reeds opgebruik. Kinders daarenteen het baie geleenthede én baie vrae. Kinders is leergierig. Hulle wil alles weet. Die meeste grootmense se kreatiewe leervaardighede het egter in onbruik verval. Daarom dat Jesus ons ’n paar keer oproep om weer kinders te word. 


Ons moet kleiner groei om groter voor die Here te word. Agteruit grootword - dit is die nuwe wagwoord in God se koninkryk. Dit is ook die enigste manier om weer ons eie opgewondenheid oor ons geloof  te herwin. Prakties gebeur hierdie soort kindwees wanneer ons kies om met kinderlike vertroue voor God te leef. Dit gebeur ook wanneer ons ontsnap uit ons veilige kokon van voorspelbaarheid en van gedurig in beheer probeer wees. Tim Robbins sê tereg: “It's never too late to have a happy childhood.” Dit geld ook vir ons as navolgers van Jesus. Nie een van ons is te oud, of te vernaam, of te belangrik, om opnuut weer ’n kind voor God en tussen ander te word nie. Ons moet dit doen om God se koninkryk deelagtig te wees, sê Jesus. Groei dus agteruit! Groei kleiner en word reg groter.


Gebed: Here ek vra dat U my kleiner sal maak. Leer om om weer ’n kind te wees in U koninkryk. Leer my om op te kyk na U en ander.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page