top of page

Die jongste misdaadslagoffer is nie maar net nog ’n stukkie statistiek in die koerant nie

  • Stephan Joubert
  • 12 hours ago
  • 1 min read

Teks: Lukas 10:33


Toe hy die jongste misdaadslagoffer aan die anderkant van die pad sien lê, het hy dadelik gaan help. Ek praat van die Samaritaan in Jesus se gelykenis in Lukas 10. Die priester en die Leviet het aan die veilige kant van die pad gebly toe hulle dieselfde man sien lê het. Hulle was maar net ontsteld. Hulle was diep geskok. Dalk het hulle iewers ’n noodvergadering van godsdienstiges bymekaargeroep om hulle skok oor die “toestand” in die land en oor die stygende misdaad uit te spreek. Dit was vir hulle egter ondenkbaar om oor die straat te stap en te gaan help. Dit sou beteken dat hulle hul oorvol dagboeke moes onderbreek en hulle hande onrein met die bloed van ‘n vreemdeling moes maak. Die Samaritaan het wel gekies om dit te doen. 


Die Samaritaan het Jesus se kant van die pad gekies. Hy het saam met Jesus oorkant die straat gaan leef en loop. Vandag nog loop Christus daar oorkant aan die gevaarlike kant van die pad tussen misdaadslagoffers en stukkendes. Miskien kyk ons Jesus daar mis omdat ons Hom net tussen die voorspoediges en suksesvolles soek. Of omdat ons Hom net op Sondae in die kerk soek. Ja, Hy is daar ook, maar Hy is daagliks ook aan die anderkant van die straat of buurt. Ons moet Hom daar raaksien. Wag, ons moet meer as dit doen. Ons moet Jesus inhaal en begin doen wat Hy doen, naamlik om te help en te gee.


Gebed: Heer Jesus, ek loop nie juis daar rond waar U elke dag ook rondloop nie. Help my om dit te doen.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page