Die hemele verkondig God se lof
- Stephan Joubert
- 4 days ago
- 1 min read
Die Grieke en die Romeine het saam met die ou Babiloniërs geglo die hemelligame se bewegings oefen ’n groot impak op mense se lewens uit. Hulle het selfs geglo dat hulle gode, soos Jupiter, Mars en Venus direk verbind was met daardie planete, wat hulle name dra. Daarom is dit nie vreemd dat ons in Matteus 2 lees van sterrekykers wat die Messias se geboorte in die hemelruim raaksien nie. Hulle het geglo die hemelligame lewe.
Die Bybel vertel vir ons dat al die hemelligame deel vorm van God se onmeetlike groot skepping (Genesis 1:16). God het alles in die hemele en op aarde geskep, aldus Psalm 33:6. Daarom nooi Jesaja 40:26 ons uit om op te kyk na die sterre en die uitspansel bokant ons en om te bely dat God dit alles gemaak het. Hy is die Skepper van die ganse heelal. Die sterre en planete dien as bewyse van Sy eindelose liefde en trou, soos wat Psalm 136:7-9 bely.
Oor en oor verneem ons in die Bybel dat die hoogste hemele saam met die res van die skepping die Here se grootheid uitbasuin. Die hemele erken God as Skepper en as die Een wat lewe gee (Nehemia 9:6). Hier in Kersfeestyd doen ons as God se kinders dit uitbundig saam. Saam met die engele en die wyses en die sterrekykers buig ons neer voor Christus die Heer. Ons almal aanbid Hom. Ons roem en eer Sy Naam tot in ewigheid. Ons vier in hierdie dae die aankoms van ons Heer en Verlosser uitbundig saam.




Comments