Wysheid vra soms vir onsekerheid
- Roedolf Botha
- 2 hours ago
- 3 min read
In CS Lewis se nadenke oor sy eie bekering, The Pilgrim’s Regress, beskryf hy ‘n baie relevante eienskap van redelikheid. Vir Lewis is redelikheid baie belangrik aangesien sy ganse lewe en reis na geloof uiters baie van rede en logika gebruik gemaak het. Hierdie nadenke van hom het hy in die vorm van ‘n allegoriese fantasie neergepen, waar al die strome van denke wat hy teëgekom het voordat hy tot geloof gekom het, as karakters, plekke en omstandighede, binne-in die verhaal uitgebeeld word. Een van die karakters in die storie is ‘n jong vrou wat op ‘n perd ry en soos ‘n ridder lyk. Haar naam is Rede. Lewis beeld homself as ‘n pelgrim uit, ‘n reisiger wat op soek is na ewigdurende vreugde. So reis hierdie pelgrim dan deur ‘n onbekende wêreld op soek na sin en vreugde.
Toe hy Rede egter teëkom, stap hy saam met haar langs haar perd en gesels. Hy leer baie by haar. Op ‘n stadium in die gesprek voel die pelgrim dat hy moet kies tussen een van twee intellektuele standpunte. Hy voel dis uiters belangrik om dadelik ‘n opinie te vorm en standpunt in te neem vir wat hy glo. Rede sê egter vir hom dat hy nie hoef nie en veral nie moet nie, aangesien hy nog nie genoeg geleer het van die lewe en genoegsame kennis oor die bepaalde saak het nie. Dan vind die volgende gesprek plaas.
Pelgrim: “But I must choose the one or the other.”
Rede: “By my father’s soul you must not – until you have some more evidence. Can you not remain in doubt?”
Pelgrim: “I don’t know that I have ever tried.”
Rede: “You must learn to do so if you want to travel far with me.”
Die storie beeld hierdie lewenswaarheid kragtiger uit as wat ooit deur ‘n blote stelling gesê kan word. As jy redelikheid jou reisgenoot wil maak moet jy leer om in onsekerheid te leef. Hoekom? Want ons weet nie alles nie. Dis tog redelik. Ons weet trouens bitter min oor die meeste sake. Rede wag vir genoeg getuienis, genoeg inligting, genoeg ervaring en argumentasie wat goed genoeg is, voordat hy tot ‘n gevolgtrekking kom. Indien nie, bly rede liewer in onsekerheid.
Dis vir my ietwat lagwekkend wanneer ek hierdie stelling vergelyk met die arrogante sekerheid waarmee mense vandag met mekaar redekawel en dit nogal in die naam van redelikheid. Sosiale media het veroorsaak dat ons almal in die samelewing nou dink dat ons eksperts is. Ons hou daarvan om te dink dat ons weet wat aangaan want ons háát onsekerheid. Trouens, ek wonder of ons nie van sekerheid ‘n afgod gemaak het nie. Selfs gelowige mense wat soms nie verstaan hoe moeilik en kompleks die interpretasie van sekere Bybelse temas is nie, maak baie vinnig asof hulle weet. Sake waaroor die kerk van die Here Jesus al jare lank stoei, bid, dink en worstel, het hulle nou sommer uitgesorteer deur een Bybelversie, of ‘n boek of ‘n artikel te lees.
Die Bybel leer ons dat God en Jesus ons enigste sekerheid is. Naas ons basiese geloofsoortuigings weet ons gevaarlik min. Dit laat my dink aan Jakobus wat sê:
“... elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie.




Comments