Word ons lewens deur noodlot beheer?
- Roedolf Botha
- Jul 29
- 3 min read
Die fliek, Ballerina, is die vyfde prent in die John Wick-reeks. Hierdie reeks rolprente is baie kontroversieel in sekere kerkkringe, maar bly ‘n fassinerende kreatiewe genre wat afspeel in die sluipmoord-industrie. Omdat die tonele dus wemel van geweld is dit nie vir almal om te kyk nie. Nietemin is daar, soos wat die reeks flieks ontwikkel, baie interessante en diep temas besig om vorm aan te neem. Die karakter, John Wick, is ‘n individu wat aanvanklik te na gekom is en wat in die eerste fliek wraak neem. Van die tweede fliek af probeer hy egter net ontsnap en veg vir sy lewe vanuit ‘n sluipmoordnetwerk waar almal geraak is deur die wraak wat hy geneem het. Wat opvallend in daardie ongenaakbare wêreld van saamswerings, verraad en geweld, is hoe baie die Engelse woord fate, of noodlot, in die plotte van al vyf flieks gebruik word. Wat hiermee bedoel word is dat die “goeie” karakters byna almal vanuit hierdie wêreld van geweld wil ontsnap. Maar hulle kan nie eintlik nie, want daar word vir hulle gesê dat hulle eindbestemming vas bepaal is en dat hulle noodlot nie ontsnap kan word nie. Daar word frases in die flieks gebruik soos: “You can’t change who you are”, en “You can’t change your fate”, “A leopard can’t change its spots”, “Your fate is your inescapable destiny”. Hulle is dus kwansuis vooraf bestem om vir die res van hulle lewens ‘n gevangene van hierdie donker, onafwendbare noodlot te bly.
Dit herinner baie sterk aan die antieke siening van noodlot. Die vroeë Grieke het geglo dat die godin Moira (die Griekse woord vir noodlot) en haar drie dogters alle mense se lewens bepaal deur elke individuele lewe te weef, te meet en kort te knip, wanneer jou tydjie verby is. Jy kan daaraan net mooi niks doen nie. Jou noodlot is vooruit bepaal en jou dag en manier van sterwe is vas. Jou noodlot is jou noodlot. Dis hoe dit is.
Die Bybel gee natuurlik geen erkenning aan die noodlot nie. Tog beskryf Paulus die magsveld van sonde so ‘n bietjie soos die noodlot. Wanneer iemand nog buite Christus beweeg en in die magsveld van sonde, dood en die Wet leef, werk sy lewe soos die noodlot. So ‘n persoon se eindbestemming staan ook vas en sal vir seker op vernietiging uitloop. Dis al wanneer jou toekoms so vas is dat jy niks daaraan kan doen nie. Sonde en dood is rigied, onkreatief en staties. Dit ken net een manier van dink, werk en doen en dis die manier van gehoor gee aan enige en elke sondige begeerte van jouself. Wanneer iemand so aan sonde oorgegee is, is sy toekoms ook vasgebind aan selfvernietiging. Daarom praat Paulus so oor sonde in Romeine 7:23b-24:
“Dit maak my ‘n gevangene van die wet van die sonde, wat in my doen en late aan die werk is. Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?”
‘n Mens kan hierin die desperate hulpkreet hoor van iemand wat vasgevang is in die noodlottige eindbestemming van sonde. Daar is egter een hoop vir Paulus - hy sê dit in die volgende vers (Rom 7:25):
“Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.”
Slegs die genade van Jesus Christus kan die hopelose toekoms van sonde op sy kop keer en lewe, hoop en genade bring. Genade is sterker as die noodlot. Nou is my strepie nie meer getrek nie - my toekoms is nou oop saam met Jesus. Enige iets kan nou op hierdie lewenspad gebeur onder die leiding en Heerskappy van Jesus en Sy Gees. Hier in die nuwe magsveld van Jesus se liefdevolle bestuur, regeer God Sy mense met genade, vriendskap en vennootskap. Die vernietigende houvas van sonde kan verbreek word en ons kan ‘n nuwe eindbestemming saam met Jesus tegemoet gaan.
Ons lewe, met nuwe lewensmoontlikhede, lê nou oop voor ons! Saam met Jesus word die lewe ‘n onvoorspelbare avontuur waar enige iets kan gebeur.
Ons hoef nie die toekoms te vrees nie. Ons is veilig in Sy hande.
Comments