Wees vir ’n slag die uitsondering - wees gelukkig!
- Stephan Joubert
- 6 days ago
- 2 min read
Geleerdes praat van toksiese positiwiteit, wat nadelig is vir ons geestesgesondheid. Dit gebeur wanneer negatiewe gevoelens ontken of onderdruk word. Enige vorm van kunsmatige positiwiteit is ongesond. Maar dis dalk nie die grootste probleem van ons dag nie. Ons leef in ’n wêreld, wat so oorbewus van indiwidue se “issues” en benadeeldheid geraak het dat dit onnatuurlik is om te sê jy is gelukkig. Of om te sê jy is nie oorwerk, uitgebrand, bekommerd, angstig of gestres nie.
Praat jy te positief, word jy vreemd aangekyk asof jy die toksiese een is. Iewers het ek dit beleef toe ’n onbekende my vra hoe gaan dit. “Baie goed,” het ek geantwoord. “Maar hoe gaan dit regtig met jou?” was die opvolgvraag. “Ek het nie die eerste keer gejok nie,” was my antwoord. “Jy’s tog nie ernstig nie,” moes ek toe hoor.
Almal is deesdae stukkend en gebroke. Sulke taal wemel selfs in die kerk. Dis darem ook nie heeltemal onwaar nie. Maar moet dit regtig ons hooffokus wees? Moet ons so besig met ons gebrokenheid wees dat ons vergeet het ons is geroep om mekaar te begelei na die Here se kant van die waarheid toe? Moet ons Sy vrymakende kant met ons eie stories van stukkendwees vervang? Wanneer Jesus se verhaal ons s’n word, maak ons stukkende stories al hoe meer plek vir Syne. Dan word ons deel van God se ruimer verhaal, waar die klem verskuif vanaf ons eie gebrokenheid na Jesus se voltydse goedheid verskuif. Dan luister ons al hoe meer na Hom sodat ons in Sy blydskap kan leef en sodat Sy blydskap in ons volkome kan wees (Johannes 15:9). Dan raak ons voltyds bly.
Commentaires