Weerspreek God Homself?
- Stephan Joubert
- 4 days ago
- 2 min read
Kan God iets totaal anders sê as wat Hy in die Bybel sê? Kan Hy Homself weerspreek? Ek vra dit vir myself af as ek sien hoe dikwels Hy buite verband aangehaal word. Sommiges hou daarvan om slegs een frase of een vers in die Bybel uit die oorspronklike konteks te verwyder en dit dan te hergebruik, soos wat dit hulle pas. Dit gebeur gereeld met tekste, soos Jeremia 29:11, Romeine 8:28 en baie ander. Toe ek dit een keer gewaag het om vir iemand te sê hy haal ‘n Bybelvers totaal uit verband aan, was sy antwoord dat die Gees hom gelei het om daardie teks so te verstaan. Toe ek waag om te sê God kan Homself tog nie weerspreek nie, was ek skielik die een wat in die Gees se pad staan.
Ons is gou-gou op die agtervoet as mense ons uit konteks aanhaal. Wel, dan moet ons nog meer ontsteld wees as hulle dieselfde met God se Woord doen. Hy kan tog nie vandag iets anders sê of bedoel as wat Hy in die Bybel gesê en bedoel het nie. Ons moet oppas dat ons nie God in ons eie diens probeer neem nie. Hy is eerlikwaar nie ons agterna-prater nie. Dit is andersom. Ons moet Hom rég hoor. Ons moet Hom rég aanhaal. Ons moet rég oor Hom praat. Anders laat ons die Bybel buikspreek. Ons hanteer die Woord reg, as ons Bybelverse binne die konteks van elke hoofstuk lees waarbinne hulle voorkom. En as ons elke hoofstuk lees binne die konteks van daardie Bybelboeke, waarbinne hulle voorkom. En as ons heel eerste vra wat ons in elke vers en hoofstuk en boek oor God leer. Dan eers pas ons dit op onsself toe. Harde werk, of hoe? Inderdaad, maar dit is tog nie die punt nie. Dit gaan oor wat rég is. Dit gaan oor God se eer as ons die Bybel bestudeer.
Comments