Wat ‘n vriend het ons in Jesus!
- Marietjie Joubert
- 1 day ago
- 2 min read
Gedurende die afgelope Paastyd sing ons een oggend die lied Wat ‘n vriend het ons in Jesus. Ek besef op daardie oomblik dat ek die lied al so baie gesing het, maar dat dit in hierdie jaar se Paastyd vir my opnuut betekenis gekry het.
Jesus het aan die kruis,‘n vloekhout gehang. Hy het daardie dag aan die kruis soos ‘n sondaar geword deur die hele mensdom se sondes op sy skouers te neem. Hoe totaal Godverlate moes dit nie gevoel het nie! Ek beleef soms so ‘n geweldige diep teleurstelling in myself, wanneer ek sondig. Ek dink aan Jesus aan die kruis en kan my nie indink hoe verlate Hy moes gevoel het nie. Vir ons as mense, Sy kinders, is dit totaal ondenkbaar.
In hierdie oomblikke aan die kruis, waar Jesus elke sondaar se lewe op Sy skouers neem en sterf, ontvang ek LEWE! Ek mag lewe weens Sy sterwe. Hoe baie het ek dit nie al gelees, gehoor in preke of in ‘n lied gesing nie. Ek het ‘n diep gewaarwording van my eie broosheid ervaar. My eie titel van sondaar verander na ‘n vriend van Jesus. Ek ploeter nie meer in gemors rond nie, nee, ek is nou ‘n ewige vriend van die Here. Hy het in my plek aan die vloekhout gehang. Ek is nou ‘n burger van Sy Ewige Koninkryk!
Noudat ek ‘n vriend van Jesus is, dra Hy saam aan my bekommernis, my swaar en my nood. Hierdie gedeelde las maak dit makliker. Ek weet die Here is my vriend, dit maak nie saak wat gebeur nie. Niks is vir Hom te veel nie.
As vriend van Jesus ontvang ons die Gees. Die Heilige Gees is elke oomblik by ons, lei ons in swakheid en maak ons sterk. Ons dra nie meer alleen aan ons swaarkry nie. Ons is vriende van Jesus en daarom is ons sterker. Vriende van Jesus se lewe lyk anders. Hulle lewe in ewige dankbaarheid. Hulle harte en hande is oop vir die diens van die Here. Hulle doen Sy werk met vreugde en dien Hom waar hulle kan. Hulle maak tyd vir die armes en die wat swaarkry, want hulle weet wat dit was om swaar te kry voor hulle die Gees gehad het, voor hulle vriende van die lewende Here was en hulle eie kruis moes dra!
Wees in hierdie tyd spesiaal dankbaar vir die kruisiging, dat jy kan lewe en ‘n vriend van die Here kon word. Wees opnuut ontvanklik vir Sy Gees se liefde en leiding. Wees opgewonde oor jou ewige burgerskap in die hemel en die daaglikse teenwoordigheid van die Heilige Gees in jou lewe. Leef ‘n Geesvervulde lewe!
Comments