• ekerk

Wat maak ons met ons gevoelens?

deur Roedolf Botha

Wat maak ons met ons gevoelens?

Ons het in ons gemeente ‘n empiriese studie gedoen oor wat die dinge is waarmee ons mense die meeste worstel in hierdie vreemde tyd. Meer as vyf- en tagtig persent het aangedui dat hulle nie aldag weet wat om met hulle gevoelens te maak tydens lockdown nie. Emosies speel sokker met hulle eienaars in so ‘n mate dat sommige van die geliefdes rondom ons slagoffers word van ons innerlike worstelinge. Hierdie aanduiding word relatief sterk bevestig wanneer mens die media en sosiale media dophou. Gesins- en geslagsgeweld neem toe juis omdat mense nie oor die vermoë beskik om hulle stormagtige emosies te beteuel nie. ‘n Kindersielkundige noem ‘n rukkie terug aan my dat hulle gereeld nou kindertjies moet sien wat eenvoudig so depressief is dat hulle ouers nie meer weet watter kant toe nie.


Ek is nie ‘n depressieleier nie maar ek vang myself ook telkens uit dat ek sommige oggende wakker word met byna oorweldigende gevoelens van terneergedruktheid, negatiwiteit of sommer net beneuktheid, sonder enige oënskynlike rede! Breinwetenskap leer ons tans dat ons gevoelens sterker – of ten minste vinniger – werk as die redelike dele van ons brein. Teen die tyd dat ons bewus raak van ons gevoelens, het dit alreeds onbewustelik ‘n effek gehad op ons sonder dat ons dit besef het.


Maar wat moet ons doen met ons gevoelens wat so ‘n kragtige en belangrike rol speel in ons innerlike wêrelde en waaroor ons oënskynlik so min beheer het? Wat maak die Bybel en die Goeie Nuus van Jesus met die menslikheid van ons emosionele daaglikse bestaan? Ons gesin het twee depressieleiers in die huis en daar is vyf algemene en basiese stappe wat ons saam met ons kinders van kleins af probeer aanleer het in verband met gevoelens.


1. Raak bewus van jou gevoelens en gee dit ‘n naam. Dit klink so vanself sprekend maar meeste mense is geensins bewus van wat werklik binne-in hulle aan die gang is nie. Mense voel sleg maar hulle besef nie waar dit vandaan kom en selfs watse emosie dit presies is wat hulle voel nie. Ervaring leer dat om ‘n naam te gee aan presies wat jy voel, alreeds deel van die genesingsproses is. Hoe groter jou aangeleerde woordeskat is om jou gevoelens mee te beskryf, hoe beter vir jou selfbewussyn. Kyk byvoorbeeld na die geweldige eerlike emosies van die skrywers van sommige van die Psalms.


Om my te help hiermee klim ek soms sommer op Google en tik die sinnetjie “list of emotions” in die teksgleuf. Ek soek dan vir my ‘n lys van ten minste vyftig gelyste emosies en kies ten minste drie van hulle uit wat uitbeeld hoe en wat ek presies voel.


2. Herinner jouself dat nie alle gevoelens die waarheid oor jou reflekteer nie. Hierdie tweede stap is ‘n poging om myself daaraan te herinner dat ek nie die slagoffer hoef te wees van enige leuen wat my brein aan my opdis nie. Daar is baie redes waarom my onderbewuste hierdie emosies na die oppervlak bring. Ek hoef egter nie enige gevoel of gedagte wat by my opkom te glo nie.


3. Vra vir ‘n sambreel van genade. Wanneer ek die dag voel asof ek my hare uit my kop gaan trek, dan probeer ek eerlik wees met die mense naaste aan my of die mense met wie ek saam werk. Ek vra hulle om asseblief net vir vandag (of hierdie week) met my geduldig te wees en my te verdra. Ek vra hulle ook om my saggies daarop te wys indien ek iemand te na kom.


4. Herbelyn jouself met Bybelse realiteit. Hierna probeer ek myself herinner aan wat die mees basiese dinge wat die Here ons in sy Woord leer. Ek herinner myself daaraan dat Jesus ook doodsbenoud gevoel het (Mt 26:38), dat dit soms deel is van menslikheid. Ek herinner myself daaraan dat God my lief het net soos wat ek is en my reeds ‘n splinternuwe kruisverdiende identiteit geskenk het, dat sy Heilige Gees in my werksaam is en dat ek met hoop kan volhard, my oog gevestig op Jesus wat alles voor my beleef het.


5. Celebrate, celebrate, celebrate! Viering is een van die gawes wat God byna van die begin af in die spiritualiteit van Israel ingewerk het. Reeds van die Ou Testament af het die Here die Sabbat en gereelde feesdae ingestel sodat die goedheid van God gevier kan word. Die goedheid van God kan konkreet gesien word in die teenwoordigheid van al die goeie elemente in my lewe. Ek probeer myself dus as ‘n speurder sien wat al die goeie positiewe dinge uitsnuffel en dit te gebruik as ‘n rede om te celebrate. Mens kan hierdie dinge vier deur sommer ‘n vuurtjie aan te steek en braai te hou, glas rooiwyn oop te maak of koffie en beskuit te maak, ‘n lied op Youtube te luister en jouself en jou denke te rig op die Here se goedheid.


Hierdie paar stappe kan dien as ‘n nuwe dissipline in jou daaglikse roetines wat Jesus kan gebruik om vir jou sy nuwe lewe te laat beleef. Mag dit jou daartoe lei om elke dag te beweeg binne-in die beleefde realiteit dat Jesus werklik opgestaan het en dat opstanding ook jou voorland is!

© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: