Waardevermeerdering is aan die orde van die dag op God se terrein
- Stephan Joubert
- 1 hour ago
- 2 min read
Teks: 2 Korintiërs 4:16
Waardevermindering teiken die meeste artikels in ons huise. Dink maar aan enige nuwe motor. Skaars het ‘n mens met ’n nuwe voertuig uit die vertoonlokaal gery, of dit is derduisende rande minder werd. Dieselfde geld vir al ons tegniese apparate. Dit lyk my ook ons as mense is slagoffers van waardevermindering. Hoe ouer ons word, hoe minder verbuikerswaarde het ons vir die samelewing rondom ons en ook vir ander. Kyk dan net hoevel ouer mense word vergeet deur hulle kinders en kleinkinders, of sommer net afgeskryf iewers langs die pad.
Gelukkig geld waardevermindering nooit vir God se mense nie. Paulus vertel in 2 Korintiërs 4:16 vir gelowiges dat selfs al word ons liggame ouer, word ons steeds innerlik van dag tot dag nuut gemaak. Ons as kinders van God leef met ander woorde in ‘n opwaartse groeikurwe. God is besig met ‘n waardevermeerderingsproses hier in ons binneste. Dag vir dag groei ons al hoe meer in wysheid, asook in die nodige geestelike kennis. Daagliks maak die Heilige Gees ons van binne af nuut. Dit waarborg Hyself in Sy Woord. Dit doen Hy inderdaad ook. Daarom kan ons met vreugde leef, al haal pyne en skete ons soms in en al skryf ander ons af. Ons kosbaarheid neem by die dag in die teenwoordigheid van God toe. Hoor dus weer ’n keer die goeie nuus: Waardevermeerdering is aan die orde van die dag waar die Here aan die werk is. Ons is Sy kosbaere aardse skatte. Inflasie, waardevermindering en agteruitgang tel niks hier nie.
Gebed: Here, ek is oorweldig dat U soveel vir my omgee dat my waarde voor U toeneem. Ek loof U hiervoor.




Comments