top of page

Waar is God?

  • Stephan Joubert
  • Oct 31
  • 2 min read

Teks: Psalm 3:5


Waar is God as dinge sleg gaan? Hierdie vraag is so vars soos die nuutste realiteite van Suid Afrika. Baie van ons het lankal reeds ons kwota moeilikheid vir die jaar opgebruik. Ons was reeds blootgestel aan enigiets, vanaf korrupsie tot misdaad. In elk geval, die stereotipe siening is dat dit makliker is om te glo as jy omring is met groen weivelde. Of as jou beker oorloop met seëninge. Maar dit raak blykbaar moeiliker as jy bid en dit voel of die hemele bokant jou toegesluit is. Hoe dan gemaak? Is dit dan die tyd om die laaste stof van geloof van jou voete af te skud? Is dit dan die tyd om God se teenwoordigheid te betwyfel? Nee, nie as jou naam Dawid is nie. Hyself moes ook hierdie vraag hanteer toe hy deur ’n paar nagmerries van sy eie moes worstel.


Een van die moeilikste tye ooit in Dawid se lewe het aangebreek toe hyself moes vlug vir sy kind, Absalom, wat hom wou vermoor. Die eens magtige koning wat reuse uitgeknikker het, moes te voet uit Jerusalem vlug. In hierdie moeilike tyd skryf hy Psalm 3. Hierin bely hy dat God steeds in Sion is. God het nie padgegee uit Jerusalem omdat Dawid padgegee het nie. God het nie opgehou om te wees waar Hy is en wie Hy is omdat Sy kneg se omstandighede verander het nie. Hy is steeds die Here. Daarom los Hy Sy mense nie alleen wanneer ons deur ’n donker dal moet worstel nie.


Gebed:

Almagtige God, U is wie U is. U doen wat U doen. Daar is geen einde aan U liefde nie. Halleleuja!

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page