Waag alles!
Teks: Johannes 1:51
Luister ‘n bietjie na al daardie geykte Nuwejaarswense en verjaarsdagwense, dan hoor jy hulle almal gaan eintlik net oor voorspoed en geluk. Sulke wense is baie veilig. Wel, dis darem ook nie verkeerd om mekaar sulke mooi dinge toe te wens nie. Ons weet egter die lewe werk nie heeltemal so nie. Groen weivelde en stil waters is ons almal se droom, maar hoe leef ons die res van die tyd? Hoe help ons geloof ons wanneer ons op ander lewenspaaie moet loop? Wie weet, net dalk sal ‘n meer waagmoedige wens ons koppe help skuif in die regte rigting. Ek praat van daardie een wat die bekende Amerikaanse skrywer, Erwin McManus, graag voor in sy boeke skryf wanneer hy dit onderteken: “Risk everything!”
“Waag alles!” Pleks van nog voorspoed, veiligheid en geluk, kort ons geloof ook ’n waagmoedinspuiting. Dit vra moed om te midde van ongeloof, selfsug en teenstand in die Here te glo. Dit kos dapperheid om op Christus se hakke te loop en om Hom te vertrou wanneer jy ’n veiliger en meer bekende koers wil inslaan. Maar as jy dit waag, verander jou geloof jou en ook alles rondom jou. Dit verskuif jou kyk weg vanaf jouself en jou sekerhede na die Here toe. Dit maak van jou ‘n dapperder en meer waagmoedige persoon. Waagmoedige geloof laat jou buite jou selfgemaakte kokonne van voorspelbaarheid en nie-waagmoedigheid leef. Sulke geloof laat jou die hemel oop bokant jou kop sien, soos wat Jesus in Johannes 1 belowe, sommer nou reeds!
Gebed: Ek vra groot asseblief dat die hemele bokant my kop op hierdie dag oop sal wees. Laat my binne U heerlikheid leef. Laat my wandel op U paaie.




Comments