top of page

Vrygewig met die oorvloed wat ons gekry het

  • Elmarie van der Westhuizen
  • May 7
  • 2 min read
“Alles kom tog van U af. Ons gee maar net aan U wat U vir ons gegee het.” (1 Kronieke 29:14 DB)

Gletsers is verantwoordelik vir ongeveer 95% van al die vars water, wat op aarde gestoor word. Geen wonder dat die gletsers in Switserland die watersilo’s van Europa genoem word nie. Hulle gaar die wintersneeu op en laat dit stadig gedurende die somer vry - dit voorsien water vir Europa se riviere en gewasse. Soos die oorvloedige sneeu in die somer smelt en dan kanale van lewegewende water word, het die vroeë kerk hierdie beginsel verstaan en dit met vreugde uitgeleef. Hulle het alles, wat hulle besit, met mekaar gedeel, selfs hulle grond verkoop en die geld verdeel onder dié wat nie het nie. Hulle het hul aardse besittings nie net vir hulself gehou nie - hulle het die beginsel om kanale van seën te wees, verstaan.


Die word gee kom 2152 keer in die Bybel voor. Ek word opgeroep om vrygewig te wees en dit met ‘n blye hart te doen. Hoe ek gee is belangriker as wat ek gee, want dit wys wat in my hart aangaan. “God is lief vir mense wat hulle geld met blydskap weggee.”(2 Kor 9:7 DB). God laat my in al Sy goedheid deel sodat ek genoeg het om weg te gee. Ek kan Hom vertrou om ook in die toekoms in al my behoeftes te voorsien. Ek hoef nie suinig te wees en aan my besittings vas te klou, omdat ek bang is ek gaan nie genoeg hê nie. Almal het nie dieselfde ontvang nie, maar die meeste van ons het genoeg gekry om met ander te kan deel. Alles, wat ek besit – my geld, werk, talente, gesondheid, tyd, ens. – behoort immers aan God en word deur Hom aan my toevertrou om in Sy Koninkryk aan te wend.


Om vrygewig te wees is meer as net om geld /donasies te gee. Ek kan vrygewig wees met my talente, met my komplimente, vrygewig met my liefde, tyd, energie, met my gasvryheid en vrye tyd. Ek kan vrygewig wees met my geduld en liefde vir mense wat ek moeilik vind, vrygewig met tyd om behoorlik na iemand te luister. Ek gee omdat ek die liefde van Jesus aan ander wil bewys, hulle eerste wil stel. 


Vrygewigheid is liefde in aksie en ‘n direkte uitvloeisel van my verhouding met my Hemelse Vader -hoe meer intiem en lewend my verhouding met Hom, hoe meer gaan my oë, my hart én my beursie oopgaan vir sake wat na aan Sy hart lê.


"Do all the good you can, by all the means you can, in all the ways you can, in all the places you can, at all the times you can, to all the people you can, as long as ever you can."  John Wesley

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page