top of page

Vind vreugde in beide kakofonie én harmonie

  • Liezel Lüneburg
  • Jul 22
  • 2 min read

Een van my gunstelingonderwysers het op 'n dag in 'n dawerende stem gevra: "Wat vir 'n kakofonie gaan hier aan?" Die hele klas het stil geraak en hom oopmond aangegaap. Die betekenis van die term, wat darem baie soos 'n vloekwoord klink, was vir die klomp onkundige sestienjarige tieners heeltemal duister. Hy het gelag en verduidelik dat 'n kakofonie eintlik 'n onwelluidende mengsel van deurmekaar klanke of 'n goot lawaai is.


Ons lewe in 'n wêreld, waar ons oorweldig word deur 'n kakofonie van onharmonieuse, onaardige, oorverdowende, deurmekaar klanke. Hierdie klanke verteenwoordig al die lelik, onreg, swaarkry en slegte nuus in die wêreld. 


Paulus skryf in Romeine 5 iets, wat nie vir ongelowiges sin maak nie: Gelowiges vind vreugde in swaarkry (kakofonie), want ons weet swaarkry kweek volharding en volharding kweek egtheid van geloof en egtheid van geloof kweek hoop en die hoop beskaam nie.


Ons lees hierdie woorde oor en oor en ons weet dat dit waar is. Tog wens ons dat die kakofonie moet verdwyn om plek te maak vir harmonieuse klanke, wat 'n kombinaise van note is, wat mooi en aangenaam is om na te luister.   


Ons vergeet dat daar reeds harmonie in ons lewens is: Paulus skryf óók dat Jesus Christus ons vryspraak in genade bewerkstellig het en daarom is daar nou vrede (harmonie) tussen ons en God. Net soos swaarkry bring harmonie hoop en ons verheug ons in hierdie hoop.


Christene kan dus nie tussen kakofonie en harmonie kies nie. Die twee loop hand aan hand en, om die waarheid te sê, kan die een nie sonder die ander nie. Beide bring immers hoop en geloof en dit is juis die harmonie wat my verhouding met God versterk, wat my help om die kakofonie te oorleef. Boonop sou ek geen verskil in hierdie wêreld kon maak as dit nie vir swaarkry was nie. Swaarkry vorm tog die basis van ’n Christen se aardse bediening.


Philip Yancey skryf in Reaching for the Invisible God dat hy grootgeword het met die idee dat 'n verhouding met God orde, sekerheid en rasionaliteit bring. Dan haal hy Andrew Greeley se woorde aan:


"If one wishes to eliminate uncertainty, tension, confusion and disorder from one's life, there is no point in getting mixed up either with Yahweh or with Jesus of Nazareth."

Stof tot nadenke ...

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page