Vertrou die Here met jou geliefdes
- Stephan Joubert
- 14 minutes ago
- 2 min read
Teks: Handelinge 20:32
Ons wil graag diegene naby aan ons in watte toedraai. Ons as ouers wil ons kinders beskerm teen die stampe en stote van die lewe. Net so wil ons ons huweliksmaats vrywaar van seerkry. Ons wil ons vriende ook op die hande dra. Maar ons kan ongelukkig nie altyd fisies daar wees vir mekaar nie. Boonop is dit dalk ook nie die wysste ding onder die son om ons geliefdes gedurig uit die avontuursones van die lewe te probeer weghou nie, want die lewe is nie sonder uitdagings en verrassings nie. Die lewe gebeur nie op een of ander wolk nie, maar hier tussen ons in die regte wêreld. En, soos wat ons almal weet - aan hierdie kant van die graf is die lewe nie volmaak nie.
Miskien is dit eerder ons roeping om vir ons geliefdes te bid terwyl hulle binne die gevaarsones van die lewe leef, as om hulle gedurig daar te probeer weghou. Ons moet eerder hulle name voor ons Vader in die hemel hou as dat ons hulle heeltyd net hier by onsself wil hou. Ons moet God elke dag met ons geliefdes vertrou. Ons moet bid dat Hy hulle sal bewaar en op die regte paaie lei. Ons moet die Here, wat die Bewaker van ons almal is, vertrou om ons en ons geliefdes te lei in lewe én in dood. Kom ons vertrou dan onsself en ons geliefdes vir hierdie lewe sowel as vir die lewe hierna toe aan ons Hemelse Vader se liefdevolle sorg.
Gebed: U is ons beskermer. U dra ons deur die lewe. Doen dit ook vir al ons geliefdes vandag en elke ander dag.




Comments