Sê nou ons is ook doodgewoon vir Jesus …
- Stephan Joubert
- 12 minutes ago
- 2 min read
Teks: Lukas 17:10
Sê nou ons geloof sou nie kragaangedrewe wees nie, maar diensaangedrewe … Sê nou ons belangrikste geloofsimbole sou nie magsbeelde wees nie, maar simbole wat nederigheid uitbeeld … Sê nou ons sou nie magtige vegters vir die Here probeer wees nie, maar doodgewone knegte wat nie erkenning soek nie en ander mense in Sy Naam dien … Sê nou ons sou nie die klem laat val op al ons geestelike deurbrake en suksesse nie … Sê nou ons lewens sou stil, mooi verhale vertel van hoe Christus mense met Sy genade aanraak, wat dan? Sou ons dan nie veel nader aan Jesus se hartklop geleef het nie?
Het ons dalk heeltemal afgestomp geraak vir ons roeping om Jesus se knegte te wees? Ons is geroep om kleiner te wees, eerder as groter. Ons is geroep om swakker en broser te wees, eerder as sterker. Ons is die Here se werkers. Die pad is Syne. Die krag is Syne. Die deurbrake is Syne. Die eer is Syne. Ons meld maar net elke dag getrou vir diens aan en staan dan uit die Here se pad. Ons laat Hom doen wat net Hy alleen kan doen. Ons verwag nie dankies en kopvrywe as ons gedoen het wat ons moet doen vir die Here soos wat Hyself ons in Lukas 17 leer nie. Ons is in Sý diens, nie andersom nie. Die Here werk nie vir ons nie; ons werk en leef vir Hom. Ons enigste begeerte is om te doen wat Hy van ons verwag.
Gebed: Christus, U gebruik gewone mense soos ek. Dankie daarvoor. Laat die eer, die deurbrake en die sukses U s’n wees.




Comments