• Stephan Joubert

Systap daardie dodelike twee


Jy ken daardie dodelike twee. Ek praat van daardie twee woorde: “WAT AS..?”


Wat as daar nie gou ’n teenmiddel teen die korona virus gevind word nie?” “Wat as ek ook alles gaan verloor in hierdie tyd?” “Wat as laer vlakke van grendeltyd nie binnekort aanbreek nie?” “Wat as die onderwys in duie stort; misdaad toeneem; kerke liberaal word…? Te veel mense bou hulle lewe op sulke “wat as” of “what-if” scenarios. Hoe meer jy egter met negatiewe scenarios soos hierdie werk, hoe meer wen bekommernis en onsekerheid in jou lewe.


Natuurlik mag jy vrae oor die toekoms vra. Natuurlik mag jy saamgesels oor die koronavirus en ons almal se toekoms. Maar dit is dwaasheid om al jou besluite en jou emosies te begrond op slegte projeksies. Of om al jou energie te mors op duisende opinies en gerugte rondom jou. Of om opstokers, gerugte-verspreiders en hooploses as meningsvormers in jou lewe toe te laat. Selfs al bou ander mense hulle lewens op sulke “wat as” fondamente, jyself doen dit nie. Jy kyk op na die Here.


Jou geloof maak jou lewe nie moeilikheid-vry, of probleem-immuun nie. Nog minder maak dit dat jy jou oë of jou ore toedruk vir alles wat rondom jou gebeur. Maar jou geloof maak wel dat jou lewe nie afhanklik is van jou omstandighede nie. Of van ander se keuses en gedrag nie. Jy volg die Here. Jy volg Hom in groen weivelde en deur doodsvalleie. Jou keuses word nie geskoei op “what if” scenarios nie, maar op ‘n “HY IS BY MY” realiteit. Jy vertrou Christus met jou hele lewe. Jy weet dat Hy belowe het Hy is by ons al die dae van ons lewe (Matteus 28:19-20). Christus is jou hoop. Hy is jou lewe, Hy alleen.

© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: