top of page

Staan jy aan die begin van ‘n nuwe seisoen?

  • Helena Smith
  • 3 days ago
  • 2 min read

Die wêreld verander vinniger as wat ons kan aanpas.  Soms kies ons vir verandering in ons lewens, maar ander kere kies dit ons.  Net soos wat seisoene verander, is verandering in ons lewensseisoene onvermydelik.Die verandering kan opwindend of pynlik wees.  


2026 kan dalk beteken dat jy van werk verander of dat jy nou ‘n nuwe seisoen as afgetredene beleef. Dalk is jou lewensmaat onlangs oorlede, of jy is geskei en jy moet nou aan die nuwe normaal gewoond raak. Julle het dalk na ‘n nuwe dorp verhuis en jy sukkel nog ‘n bietjie met die aanpassing.  


Verandering beproef ons geduld en geloof. Dit is egter ‘n troos om te weet dat God by ons in elke nuwe seisoen is en dat Hy ons deur verandering lei. Hy ken reeds die pad en sien die groter prentjie. 


Moenie in die verlede probeer leef en die “goeie ou dae” romantiseer nie. In Jesaja 43:18 en 19a lees ons:  “Die Here sê:  ‘Moenie vassteek by die verlede nie.  Moenie net dink aan die dinge wat verby is nie. Let op! Ek gaan iets nuuts laat gebeur.’” 


Dit is belangrik om in ‘n nuwe seisoen buigsaam te wees. Soos wat die pottebakker die klei vorm, is God besig om ons in ‘n oorgangseisoen te vorm. Wees aanpasbaar en vra die Here om jou positief oor hierdie nuwe seisoen te maak. As julle na ‘n nuwe dorp trek, reik van jou kant af uit na die mense. As jy ‘n nuwe werk begin, reik uit na nuwe kollegas.


Behou ‘n sagte hart. Teleurstelling en pyn kan jou hart verhard. ‘n Sagte hart laat God toe om genesing, wysheid en groei te bring.


Natalie du  Toit, die bekende Parlimpiese swemmer, het in 2001 aan die begin van ‘n uitdagende nuwe seisoen gestaan. Sy het na ‘n ongeluk met ‘n bromponie haar linkerbeen verloor. Voor haar ongeluk was sy reeds ‘n goeie swemmer. 124 dae na haar ongeluk, het sy weer aan ‘n swemkompetisie deelgeneem!


Hou in ‘n moeilike seisoen aan God vas en moenie twyfel nie. Vra Hom vir hulp. Jy hoef nie alleen deur die oorgang te gaan nie. As jy naby aan God leef en in Sy teenwoordigheid rus, sal jy vrede ervaar. God kan ‘n moeilike seisoen gebruik om jou geloof en veerkragtigheid te versterk.


Omhels verandering en nuwe seisoene. God is daar in die dorheid, die nuwe lente, die vrugbaarheid en die veranderende kleure. Hy het ‘n plan met elke seisoen in jou lewe. Ons moet net vertrou dat Hy weet wat die regte tyd is vir die verandering van ons lewenseisoen en leer om daarby aan te pas.  


Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page