top of page

So raak vrees uit die mode

  • Stephan Joubert
  • Jul 4
  • 1 min read

Teks: Josua 1:8


"Ek is bang." Dit is die daaglikse ervaring van derduisende mense. Vrees is 'n goor realiteit. Vrees maak jou blind en irrasioneel. Vrees laat jou vries, veg of vlug. Vrees haal die mooi uit jou lewe. Dit los net al die skerpkante oor, wat seermaak. Die Here weet dit. Daarom dat Hy keer op keer in die Bybel vir Sy mense sê: "Moenie bang wees nie!” Hierdie woorde geld vandag ook vir jou. Ook jý is vandag 'n aangespreekte deur die Here. God self sê vir jou: “MOENIE BANG WEES NIE!” Dit is ’n opdrag: Hou op hiermee.


Hoe hou jy op om bang te wees? Wel, jy hou net op. Jy stop dit. Jy kies om die Here se gerusstellende woorde te glo dat Hy by jou is. Jy kies om nie langer te luister na al daardie bangmaakstemme in jou binneste nie. Jy hou op om jouself blind te staar teen die reuse, wat jy gedurig rondom jou raaksien. Jy kies om jou ore heel eerste vir God se stem uit te leen en om vir al die stemme van vrees doof te raak. Jy kies om jou oorspiere aanhoudend te oefen om die Here beter en beter te hoor. Jy leer om Hom elke dag in jou handel en wandel te ervaar. Dan krimp vrees. Dan raak dit uit die mode in jou lewe. In dieselfde asem groei jou geloofsvetroue in die lewende God sommer ook. Dan weet jy: Hy is altyd en oral by jou. 


Gebed:

Heer, dankie dat vrees in my lewe uit die mode raak. Ek weet U is by my.

Comentarios


Ya no es posible comentar esta entrada. Contacta al propietario del sitio para obtener más información.
bottom of page