So meet jy die waarde van alles en almal
- Stephan Joubert
- 6 days ago
- 1 min read
Updated: 2 days ago
Teks: Filippense 1:21
Hoe meet jy die waarde van dinge? ‘n Versekeringsmaatskappy kan jou dalk help met die waarde van jou aardse besittings. Maar is die waarde van jou lewe gelyk aan die somtotaal van al jou vaste bates? Meet jy jou aardse bestaan uitsluitlik aan jou geld, jou huis en jou motor? Wel, dan meet jy dit verkeerd, dan meet jy dit ’n volle 100% verkeerd. Hierdie meetinstrument gaan jou hoegenaamd niks help as jy eendag voor die lewende God staan nie. Dit gaan jou hier en nou ook nie help om reg te leef nie.
Een vraag wat my help as ek aan die waarde van dinge in my lewe dink, is die volgende: “Wat moet ek verloor voordat ek alles verloor het?” Besittings kan dalk nog iewers langs die pad vervang word, maar my geliefdes nie. My huwelik is ongetwyfeld my hoogste aardse vreugde. So ook my kinders, familie en vriende. Hulle waarde is onmeetbaar. Maar selfs as ek van my geliefdes moet verloor, het ek nog nie alles verloor nie. Dit is verskriklik om so iets oor te kom. Almal van ons, wat al ’n geliefde verloor het, weet dit. Maar die grootste denkbare verlies is wanneer God nie in my lewe aanwesig is nie.
Om Jesus as Here te ken, is belangriker as alles en almal in my lewe. Hy maak my Syne vir tyd en ewigheid. Hy is my enigste hoop. Saam met Paulus in Filippense 3 gee ek alles prys om die Here as die hoogste Bron van vreugde te ken.
Gebed: Here Jesus, U is my hele lewe. Ek leef slegs vir U as Heer.
Comments