Skryf in vir ’n taal-kursus … by die Here
- Stephan Joubert
- Aug 11
- 1 min read
Jy raak Spreuke se wysheid-taal baas as jy ophou om soos dwase te praat. Soos wat my oupa sou gesê het: Jy moet sulke taal afleer. Spreuke sê dwase is lief is vir haatpraatjies en skinder (10:18). Dwase verwoes ander mense met hulle venynige woorde (11:9; 12:6). Gedurig het dwase hulle monde vol oor die res van die mensdom (18:2). Hulleself is altyd op die morele hoëgrond. Dit is die res wat verkeerd is. Daarom is dwase se woorde hulle eie ondergang (18:7).
Wyse mense praat anders as dwase. Hulle is ingeskrewe studente by die Here se taalskool. Die Gees is hulle leermeester. Daarom is wyse mense se woorde so begeerlik soos kosbare silwer en goud (10:20, 20:15). Wyse mense, wat die Here se taalklasse lewenslank deurloop, weet altyd hoe om die regte dinge op die regte tyd te sê (11:9; 15:23). Wyses weet immers die regte woorde bring vrede en genesing (15:1). Dit herstel verhoudings. Dit versterk verhoudings. Dit laat verhoudings op die regte maniere groei.
Wyse mense se sagte woorde briek woede (16:13). Hulle vriendelike woorde maak dat selfs belangrike mense graag na hulle luister (22:11; 25:15). Wyse mense praat altyd eerlik, maar hulle doen dit altyd met die nodige integriteit (12:19). Hulle woorde maak nie seer nie. Dit verwond nie, maar bou op. Wyse mense, wat die Here se taalskool deurloop, beskik ook oor die regte kennis en insig (13:14). Raak asseblief sulke taal en wysheid baas. Meld elke dag aan by God se skool van wysheid. Hier is die Gees jou Leermeester. Hy leer jou gedurig hoe om reg te praat.
Comments