top of page

Sal jy Superman vertrou met al die mag?

  • Roedolf Botha
  • 4 days ago
  • 2 min read

Wie sal jý vertrou met al die mag?


Die nuutste Superman-fliek het die afgelope paar weke begin vertoon. Die superheldflieks bly maar ‘n uiters belangrike genre in ons samelewing. Hierdie is die vierde vollengtefliek oor Superman, afgesien van die TV reekse Lois & Clark en Smallville. Die vier flieks, sowel as die TV-reekse, kom elkeen met sy baie unieke en anderse klem op die lewe en karakter van hierdie gewilde superheld. Wat egter soos ‘n paal bo water staan en wat konsekwent in al die produksies bly, is veral twee dinge.


Die eerste is die geweldige mag wat Superman het, veral wanneer jy hom met sommige van die ander superhelde vergelyk. Hy is die magtigste van almal. Spiderman is begaafd en sy stories is uiters vermaaklik, maar hy is geen match vir Superman nie. Captain America, Batman en Iron Man is ook goed en hulle stories ook lekker om jou in te verlustig met ‘n lekker spul snacks naby jou, maar hulle is geen kompetisie vir Superman nie. Laasgenoemde kan beter vlieg, hy is fisies sterker en het meer truuks in sy mou as die ander helde.


Maar dit bring ons by die tweede eienskap van Superman: Hy is moreel so goed dat dit amper te goed is om waar te wees. Hy is altyd empaties. Hy veg altyd vir goeie waardes en sy hele lewe gaan daaroor om mense te help. Hy is so goed dat hy amper naïef oor alles is. In die 1978 fliek sê hy vir Lois Lane dat hy gekom het om vir die waarheid en geregtigheid van Amerika te veg.


Hierop reageer Lois spottend met die woorde: “Ah! You’ll end up fighting every elected official in the coutry!”


Hierop antwoord hy: “Surely you don’t really mean that, Lois!”


Superman glo die beste van mense, want hy self is so goed en onskuldig in sy morele samestelling. In die nuutste fliek kontrasteer Lois Lane haarself met Superman deur te sê: “Clark, I am so critical and sceptical about everything and everyone, but always want to believe the best about everything and everybody!”


Maar dis juis die punt. Iemand met soveel goedheid, opregtheid en onskuld in hom is die enigste persoon wat vertrou kan word met soveel mag! Baie krag en mag kan slegs aan persone met ‘n uitnemende karakter toevertrou word. Om mag in die verkeerde mense se hande te plaas, kan katastrofies wees. Kyk maar net na vandag se leiers.


Dis beslis een van die redes waarom ek Jesus werklik vertrou. Hy is die beeld van God, God self, die Een wat volgens Johannes hemel en Aarde bymekaar hou. Hy beskik oor al die mag in die kosmos. Tog kom gee Hy al Sy mag op die nederigste van maniere prys. Hy verloën Homself, was Sy dissipels se voete en kom hang aan die kruis om vir ons te wys hoe God lyk en hoe lief Hy ons het. So iemand kan sekerlik vertrou word. Watter ander agenda kan Hy hê, anders as om die beste vir ons te wil hê?!


Met so iemand sal ek my lewe waag.


So ‘n Leier sal ek volg.


Comments


bottom of page