Saai vreugde en bemoediging met jou woorde
- Helena Smith
- 5 days ago
- 2 min read
Benjamin West was die amptelike skilder vir koning George die derde van Engeland. Hy was onder meer bekend vir die historiese tonele, wat hy geskilder het. Toe hy klein was, het hy eendag verf geneem en ‘n prentjie van sy sussie begin verf. Sommer gou was dit ‘n groot gemors. Toe sy ma egter sy “skildery” sien, het sy hom gesoen en geprys. Later in sy lewe het hy gesê dat daardie soen van sy ma van hom ‘n skilder gemaak het. Een kompliment van sy ma het hom laat glo dat hy baie talent het.
Woorde is ‘n kragtige instrument, wat ander kan opbou of afbreek. Ons woorde vorm die fondament van ons verhoudings. Wat ons sê, reflekteer wie ons is. Elke woord, wat ons sê, kan ‘n positiewe of negatiewe effek hê. Dit is daarom belangrik dat ons ons woorde met wysheid kies. Jou woorde wys ook vir ander hoe belangrik jou verhouding met die Here vir jou is. Jou woorde is ‘n vertoonvenster vir God en dit, wat jy sê, kan mense in verwondering teenoor God laat staan.
In Spreuke lees ons ‘n hele paar keer van die krag van mooi woorde. Spreuke 16:24 sê:
“Mooi woorde is soos heuning; dit is goed vir die gees en bevorderlik vir die lewe.”
Ons seun groet almal by wie hy verbystap graag. Sommige mense ignoreer dit heeltemal. Wat vir my die mooiste is, is dat ernstige, bekommerde gesigte soms ophelder in ‘n glimlag en dat die persone dan vriendelik teruggroet. ‘n Vriendelike groet kos niks nie.
As ‘n onderwyser het ek gesien hoe ‘n kompliment en woorde van aanmoediging leerders laat blom het. Almal hou daarvan om komplimente te kry. Sê vir mense as jy dink hulle lyk mooi. Gee vir jou kinders komplimente vir goeie gedrag en maniere. Probeer om altyd die goeie in ander raak te sien.
Ek glo dat Christene stemmingskeppers moet wees. As jy op ‘n plek kom waar mense neerdrukkende gesprekke het, probeer om die stemming te verander met ‘n positiewe opmerking. As jy in ‘n situasie is waar iemand beskinder word, sê iets positiefs oor daardie persoon of stuur die gesprek in ‘n ander rigting.
‘n Positiewe bui is aansteeklik. Begin jou dag op ‘n positiewe noot deur vir die Here dankie te sê vir alle goeie gawes. Dan kies jy om doelbewus vriendelik te wees, ander te groet, te komplimenteer en bemoedig. Ek glo dat hoe meer vreugde jy saai, hoe meer vreugde sal jy terugontvang.
コメント